NG Lynnwood Gemeente


Beste lidmaat van NG Lynnwood se geloofsgemeenskap


Neem saam met ons verantwoordelikheid vir 24/7 Christen-wees in jou wêreld!


Soos jy in die opskrif kan sien wil ons hierdie jaar graag 'n kerk wees waar die lidmate 24/7 hulle Christenskap uitoefen. Hierdie boodskap dra ons al uit van die begin van die jaar. As geloofsgemeenskap - die NG Lynnwoodkerk - waarvan jy 'n lidmaat is - vertrou ons dat jy teen hierdie tyd saam met ons as predikante opgewonde is om nuut en vars te dink oor hoe ons verstaan om deel van so 'n ongelooflike kerk te wees! Ons wil hierdie jaar as ‘n geloofsgemeenskap mekaar toerus, ondersteun en uitstuur om ’n 24/7 Christen lewenstyl te leef in die wêreld waarin ons elke dag ‘n invloed uitoefen! Ons beleef tans by lidmate ‘n aktiewe deelname en wonderlike gesindheid! Baie dankie daarvoor!


 Die kern van ‘n 24/7 Christen lewenstyl vir elke lidmaat is my (as lidmaat) se verantwoordelikheid om geestelik te groei, my verhouding met die Here uit te leef en deel te wees van die geloofsfamilie waar ek glo die Here my gawes in alle situasies wil gebruik. Ons vra van jou 5 uitdagings

om ernstig te oorweeg hierdie jaar in jou persoonlike geestelike lewe (Lees
gerus daarvan in die aangehegte pamflet).


Die predikante is al lank besig om te besin oor hoe ons as geloofsgemeenskap saam moet funksioneer sodat ons hierdie droom in 2010 kan begin uitleef. Anders gestel: hoe kan ons ’n gemeente wees wat ons 24/7 Christenskap uitleef? Daar is 'n paar aksies wat ons as predikante wil neem om hierdie belangrike doelwit te bereik: Ons wil 

  • hê elke lidmaat moet verstaan dat sy/hy ’n ewe belangrike rol speel in die gemeente, maak nie saak op watter vlak nie. Dit beteken ons is saam verantwoordelik vir ons gemeente en ons geestelike groei. Hierdie gemeente is ’n familie!
  • werk aan goeie verhoudinge in die gemeente deur gereeld saam te kuier.
  • fokus op goeie toerusting van alle lidmate. Ons wil graag ons leiers in die gemeente ontwikkel.
  • seker maak die balans reg is tussen wat ons bestee aan onsself as gemeente en wat ons kan bied vir die gemeenskappe om ons. Daarom moet ons goeie rentmeesters wees van alles wat ons individueel en saam besit.
  • fokus op ’n lewensstyl van omgee, liefde en kommunikasie as ons saam is, maar ook as ons orals kerk is in die daaglikse lewe.
  • verhale van wat die Here doen in ons lewens elke dag deel met mekaar!

Wat is tans aan die gebeur wat ons graag met elke lidmaat wil deel?


Daar is ’n paar belangrike feite oor hoe ons as geloofsgemeenskap funksioneer wat elke lid van ons familie behoort te weet en verstaan:

  • Daar is tans 13 bedieninge wat help dat ons bediening as gemeente goed funksioneer: Gemeente-ontwikkeling, Predikante, Onderlinge verhoudinge, Kleingroepe, Gasvryheid, Gemeentevroue, Kontak, Senior verryking, Uitreik, Eredienste, Nuwe Generasie, Gesinne en Lewenskuns.
  • Daar is 6 ondersteuningsbedieninge wat sorg dat al die fasette in plek is om hierdiee bediening van die gemeente moontlik te maak: Diensverhoudinge, Administrasie, Finansies, Eiendomme, Kommunikasie en Tegnies.
  • Al die bedieninge en ondersteuningsbedieninge het verkose verteenwoordigers wat saam die Kerkraad van die gemeente vorm. Die totale bestedingsbegroting van die Kerkraad vir 2010/2011 beloop net oor die R 6.4 miljoen. 
  • Die predikante het aan die einde van 2009 beplanning gedoen. Elke predikant het buiten sy normale verantwoordelikheid ’n spesiale fokus vir 2010. Dit is sleutelareas in die gemeente waarvoor ’n predikant dus oorhoofs verantwoordelikheid aanvaar met die hulp van al die ander predikante. Die fokusse is toegeken nadat daar gekyk is na elke predikant se gawes en passie. Die fokusse lyk soos volg: Pieter Oosthuizen (Pastoraat), Immanuel van Tonder (Eredienste en Toerusting), Johann Voges (Administrasie), Peet Crous (Gesinne en Verhoudinge) en Zander van der Westhuizen (Strategiese Leierskap en Nuwe Generasie).
  • Tans is die gemeente se enigste finansiële las die verbande aangegaan vir die Kerkkompleks se opgradering wat in 2008 voltooi is. Die uitstaande saldo op die verband wat ons graag so gou as moontlik wil delg beloop tans R 6.4 miljoen. Hiervan word net minder as R 1 miljoen deur rentevrye lenings van gemeentelede gedek. Baie dankie daarvoor! Die gemeente geniet die verbeteringe tot die hele kompleks geweldig en heelwat komplimente word ontvang vir wat ons gevestig het om die kerkkompleks meer bruikbaar en vriendelik te maak.
  • Die inkomste begroting vir die tydperk wat op 1 Maart begin, is gebaseer op ‘n verwagte groei van inkomste uit die maandelikse bydraes van gemeentelede van 6%. In die geval van ‘n maandelikse bydrae van R500.00 per huishouding, kom dit neer op ‘n addisionele R 30.00 per maand per huishouding.  Ons droom is egter dat gemeentelede wat nie gereeld bydra nie, of baie lanklaas hulle bydraes aangepas het, sal herbesin oor hulle maandelikse bydrae. Wanneer ons ‘n baie groter groei en inkomste realiseer, sal dié addisionele inkomste dan uitsluitlik aangewend kan word vir die bediening van die gemeente, al ons uitreikaksies, met ‘n sterk fokus op ons droom van 24/7 Christenwees in die gemeenskap.
  • Dit is ons wens dat elke lidmaat deel sal wees van die bedieninge en ondersteuningsbedieninge.
  • Effektiewe kommunikasie deur elektroniese media met ons geloofsgemeenskap kry tans hope aandag en word positief ontvang.
  • Daar is egter steeds vakante plekke in bedieninge normal"">waar lidmate se gawes benodig word.

Hoe neem ons saam verantwoordelikheid vir ons geloofsfamilie?

  1.  Besef jou geestelike groei is in jou hande. Die gemeente wil jou daarmee help! Daar is baie geleenthede hiervoor.
  2. Pak die 5 uitdagings aan wat ons vir elke lidmaat stel en vertel ons daarvan op die webblad www.nglynnwood.co.za (by 24/7 Stories) of op ander maniere.
  3. Indien jy jou bydrae vir die gemeente kan aanpas – oorweeg dit om jou debietorder aan te pas of op ander maniere ‘n bydrae te maak. Gee altyd uit dankbaarheid teenoor die Here – vir geen ander rede nie! (’n Debietorder-vorm is ook hierby ingesluit.)
  4. Help ons om die verband so gou moontlik af te betaal. Inligting oor hoe jy kan help is beskikbaar by die kerkkantoor of die finansiële bediening. Julle kan ook dmv die webblad voorstelle aan die finansiële bediening deurstuur.
  5. Raak asseblief betrokke by bedieninge in die gemeente – ons het jou gawes nodig!

Mag ons deur ons toewyding aan die evangelie, betrokkenheid, rentmeesterskap en saamwees op so

manier groei dat ons lewens verander waar ons leef. As ons onsself as ‘n
geloofsfamilie so kan posisioneer dat die liefde van die Here deur ons leef
24/7 – dan is ons ‘n gemeente wat ons 24/7 Christenskap uitleef.


Vriendelike groete!


Dr Zander van der Westhuizen

Voorsitter: Kerkraad





Tags: 247

Views: 24

Antwoord Hierop

© 2012   Created by NGL Admin.

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service