Liewe Lynnwood-gemeente en Dominees
Ons wil graag alles wat verlede week met die Mzansi Youth Choir gebeur
het, met julle deel want julle is ons familie, ons Pa’s en Ma’s…
Ons is verlede Dinsdag genooi om weer saam met Shakira in die Waka op te tree, net om ‘n halfuur later te hoor dit gaan nie gebeur nie, want die plaaslike reelingskomitee (LOC) het geweier. Die storie agter die skerms: ‘n SAFA grootkop se kleindogter en haar kleutermaatjies moet daar wees. Nadat Shakira se span woended uit die vergadering gestorm het, is ‘n kompromie bereik: ons mag net 12 dogters stuur, ons koornaam sal nooit genoem word nie en hulle sal vir die klere sorg. En die kleuters sal saam dans.
Ralf is Woensdag deur Shakira versoek om ‘n nuwe opname van die Waka te gaan maak – sy wou ‘n paar veranderinge aanbring. Sy sing toe sommer vir hom wat sy soek – en vertrou hom om dit alleen met die dogters te gaan doen. Met die kooropname vir die opening, het sy haar musiekspan dit laat hanteer – Ralf was net by. Dis so wonderlik vir sy CV dat sy verwerking en sy koor se opname by die Celebration konsert en by die afsluitingsfunksie gespeel is! Ons is baie trots op
hom, veral omdat hy nederig bly

(Mzansi koor by die Fifa Afskop konsert met Shakira)
Woensdag kry ons toe ook via ‘n agent ‘n uitnodinging om 16 kinders na Lanseria te bring om Andrea Borchelli in SA te verwelkom met 3 liedjies! Dit bots toe met die Shakira kleedrepetisie, maar ons skraap vinnig van ons ander koorlede nader.Omdat almal nie selfone het nie, was dit ook ‘n krisissie op sy eie.Maar gelukkig het ek die oggend van my kleinkind se Spiderman jogurt geeet en was gevolglik gereed vir enige uitdaging! So gaan ek Soccer City toe en Ralf is na die Dome. Ek het maar al my planne hier gekanselleer en my verwagte kuiermense vir die naweek laat weet ons sal hul besoek moet uitstel. Ek het Ralf vir die eerste keer sien “panic” en het nie ‘n keuse gehad nie. Uiteindelik was ek van Woensdag tot gister in Johannesburg.
Op Lanseria het dit so goed gegaan dat Andrea B. gevra het ons moet asb. die vlg aand sy galakonsert in die Dome open met dieselfde liedjies! Dit was toe ook ‘n groot verrassing om Donderdagoggend oor dieradio te hoor van ons en Botchelli, (702, Highveld, Jacaranda…) en om die Beeldse foto en berig te sien. Dit was ook op die Saturday Star se voorblad: ons wasglo “hand picked by Botchelli…” eish. En Leatile moes boonop ’n welkomswoorddaar spreek, kanjulle glo. Ralf dink dit het baie goed gegaan – die mense het dadelik ritmiesbegin saamklap. Dit was egter meer van ‘n klassieke aand, so dis absoluut ‘n wonderwerk dat ons daar kon wees. Ons hoop dit word nog op TV gewys; ek het net die encore’s gesien oppad terug van Soccer City af! Ons hoor daar is dalk Donderaand iets oor Top Billing, maar weet nie regtig nie.
Die Shakira-ervaring Sondag was absoluut ongelooflik – ‘n ware Aspoestertjie sprokie. Ek, Ralf en die 12 dogters
is van Shakira se hotel in Sandton af met ‘n begeleide bus na diestadion – saam in die bus was haar bestuurspan, orkeslede, danseresse, choreograaf, ens. By die stadion waar ons afgeklim en op gholfkarretjies gewag het wat ons na die kleedkamers sou neem, het die oomblik ons amper oorweldig: die massabonte menigte wat instroom, die indrukwekkende stadion, die wagte wat
ons begelei…ons het toe net daar ‘n kringetjie gemaak en vir die Here dankie gese. Dit was seker DIE spesiaalse oomblik vir ons groepie daardie dag.
Ons kleedkamer was digby die van Shakira, Nianell en Feshly Ground….en so langs die wit olifante! Dit was ‘n hele “dorpie” van tente en “prefab” kamers met die naam “Artists Compound”. Lekker geeet ook. Later stuur Shakira iemand om ons onderhoofmeisie te kom roep – sy moes haar 4
danseresse ook so met die tradisionele kolletjies kom grimeer! Ek wonder nounog of Phumi rerig besef het hoe groot dit was: daardie dansers toer die wereldoor saam met Shakira.
Shakira se span se organisasie was maar eintlik pateties: alles gebeur op die tippie en verander elke halfuur. Meeste eposse is na Ralf teen middernag gestuur, waarin al die tye weer gewysig word. Ons was heeltyd onder druk van Woensdag tot Sondag, want die logistiek van ons kinders is op ‘n goeie dag al moeilik. Kort kennisgewings is ‘n nagmerrie. Die wit rokke wat hulle voorsien het, was myle te groot (na n meetsesssie Donderdag) en ek en Ralf moes toe nog vinnig gaan onderklere koop….4 ure voor die funksie begin. Eish – ek het ‘n foto van hom daar in Southgate se Woollies se onderklere-afdeling….’n eerste vir hom as koormeester! En die klere-tannie kom al die pad saam van Amerika af. Maar dan wals sy net vinnig by Truworths in. Julle kan op YouTube gaan kyk hoe onvleiend ons dogters in daai klere gelyk het. Ons is nou half bly ons koornaam is nie genoem nie….en ons is baie meer trots op SA!
Die laaste krisis: die monitors in die dansers en ons dogters se ore het nie aangeskakel nie – net Shakira s’n het gewerk, so net sy kon die musiek hoor. Sy was so ontsteld, het gehuil voordat sy moes opstap –sekerlik met rede. Maar almal het die passies al so goed geken, dat hulle darem kon deurdruk. Agterna het sy weer baie gehuil en kon die beplande foto van diehele groep toe nie gebeur nie.Ek wonder of ons ooit sal kan besef wat dit alles vir hierdie kinders beteken het. Baie arm uit die township en daar vra Shakira bv. tydens een van die oefeninge dat hulle haar sommer “Shaki” noem… In die swart gemeenskap is sy soos Pavarotti vir ons…. Sy was regtig baie aangenaam
en plat op dieaarde, sonder nonsies of “sights”.
So is dit nou weer pampoentyd, die prins en die koets is weg en ons gaan terug na die nederige kerksaalom weer Saterdae hard te werk. Die koor neem hierdie Saterdag daar 3 liedjies op video op
vir Shakira se bestuurder – hy wil dit vir sekere mense in Amerika wys. Dalk….net dalk….? Ons plaas dit maar 100% in die Here se hande. Mense se beloftes het vir ons al so dikwels net teleurstelling gebaar. Maar ons vertrou eendag salhierdie spesiale kinders en Ralf rerig beloon word vir al die harde werk – en sal hulle so ook uit hul omstandighede kan uitstyg.
Al is ons nie betaal nie en lyk die bankbalans maar nog soos altyd – die Lotto het Junie eers begin om hierdie jaar se aansoeke deur te werk – het ons darem ongelooflike blootstelling gekry wat mens nie in geld kan meet nie. Na dieeerste konsert en ons nuwe DVD op YouTube, het ons vir ESPN en MNet Afrika bv.advertensies gemaak. Daarvoor is ons betaal en kan nou ons bedryfskostes vir 2 maande dek.Murray en Robberts het ons genooi om aan hulle prysuitdelingsfunksie deel te neem (28 Oktober) saam met die Drakies, Cutt Glas en Flip-a-Coin. Ons is baie opgewonde. Daar is ook ander moontlike en opwindende optredes in die pyplyn. Maar nou sal ons ‘n choreograaf moet kry om te kom help! En ons dogters bietjie tooi met pruike en HEEL kleresakke kry vir die nuwe klere. Maar ons is OK – ons vra nie geld nie,hoor, want dis luukses waarvoor ons kan wag. Ons het genoeg om nou voor dankiete sê en vertrou maar net die Here vir die pad vorentoe. Kyk net hoe het
Hy ons nou verras en behoorlik bederf!
‘n Laaste woord as jul kon uithou om tot hier te lees:
BAIE DANKIE vir al die Lynnwood Pa’s en Ma’s wat die koor die afgelope jare ons so lojaal (en ook finasieel) ondersteun het en in ons bly glo het - daarom deel ons die goeie wat gebeur het,graag eerste met julle. Soos naby familie maak.
Liefdevolle koorgroete
Marina en Kie