NG Lynnwood Gemeente

 

Liewe Dominees, hul Gades, die Koster  en die hele Gemeente van Lynnwood,

 

Hoe sê ‘n mens dankie vir soveel onvoorwaardelike omgee, liefde en vriendelikheid?

 

Woorde is nie genoeg om vir julle te bedank vir die uitnodiging en toe die waarmaak van die uitnodiging nie. Ons en die koorlede kan nie uitgepraat raak oor die gemeente se mooi gesindheid en liefde teenoor ons nie. ‘n Mens sien absoluut Jesus se liefde in die hande en voete deur julle. Daar is min gemeentes (indien enige) wat sal doen wat julle vir ons doen. Ons het hierdie onvoorwaardelike warmte en aanvaarding in elk geval nog nooit in ‘n ander kerk/gemeente  ervaar nie. En daar is min (indien enige!) dames wat ook op die einde van ‘n swangerskap nog sal kom hand bysit vir so ‘n koor!

 

Wees daarvan verseker dat ons alles verskriklik waardeer: al die reëlings vooraf (ons weet hoeveel daar is om raak te vat en dan verander ons ook nog party goed op die tippie), die keurige en smaaklik aansitetes (!), die bus- en orkesgeld, die gasouers se pragtige gesindheid, die hulp met die afrolwerk, oop- en toesluit, Ralf se koek…..niks is te veel moeite vir julle nie en alles word boonop met ‘n glimlag gedoen. Ons wil maar net sê: BAIE, BAIE DANKIE – julle het verseker ‘n groot verskil in hierdie kinders se lewens gemaak. En ook in ons s’n. Ralf merk self op dat sy ervaring hier van die NG Kerk heelwat ander is as sy ou persepsies! En onsself is net elke jaar meer sparekeloos oor wat julle vir ons doen.

 

Met die paar koorlede waarmee ons so vinnig in die verbygaan gesels het, kon ons agterkom dat hulle verstom is oor die moeite wat daar vir hulle gedoen is: dit het hulle beslis weer ’n gevoel van eiewaarde en hoop gegee. Dat mense hulle goed genoeg ag daarvoor. En hieroor is ons so dankbaar, want dit is waarna ons probeer werk. Ons sal Saterdag weer bietjie met hulle gesels om terugvoer te kry en julle laat weet.

 

Tshego (die hoofdogter) het  reeds foto’s en ‘n mooi briefie van haar gasouers Christo en Marguerite gekry en dit dadelik baie opgewonde vir ons per e-pos aangestuur. Sy sê sy het so tuis gevoel en verskriklik lekker gekuier.

 

Ons sien baie uit na die weersiens einde Mei – met nuwe repertorium. Omdat  hulle sedert Julie net aan ‘n Kersprogram gewerk het en ons so laat in 2010 eers kon begin vanweë Ralf se ander koorkampe , moes hulle maar baie van die Golden Oldies weer sing – Ralf voel self sleg daaroor.Dis nie sy styl nie.  Maar ons beloof: Die koor gaan julle nie teleurstel nie.

 

Dra asb. ons waardering aan al die betrokkenes en die breër gemeente oor. Ayoba Lynnwood!!

 

Liefdegroete

 

Ralf, Jannie en Marina en die Res

 

 

 

Views: 7

© 2012   Created by NGL Admin.

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service