>>> Kry KONTAKINLIGTING vir al die uitreikbedieninge hier
MABOPANE BEDIENING
Mabopane-uitreik
Hierdie uitreik het 'n paar jaar gelede begin en het gegroei tot 'n wonderlike uitreik. Die Mabopane Foundation, waarby verskeie gemeentes van North Carolina in die VSA inskakel, is saam met van ons gemeentevroue verantwoordelik vir die uitreik. Die Mabopane-projek is intussen ook geregistreer as 'n Art. 21 maatskappy. Die diens word op drie vlakke bedryf:
'n Maatskappy, waarby een van ons lidmate betrokke is, gee gratis opleiding aan twee onderwyseresse en dra maandeliks R10,000 tot die Art. 21 maatskappy by.
Fondse word, onder andere, ontvang van donateurs uit die gemeente en projekte wat die gemeentevroue aanpak. Die afgelope boekjaar is ongeveer R125,687 ontvang en die kos wat met die ″Pak-'n-sak″-projek ingesamel word, help baie! Kyk gerus na die kas by die hoofingang se inhoud om te sien hoe gemeentelede die afgelope tyd betrokke geraak het.
'n Groep gemeentevroue is ook besig om 106 truie te brei vir die kinders van die kleuterskool.
HELP ONS ASB DEUR VIR ONS KOS TE SKENK!
Mabopane uitreik verskaf kos aan:
100 Kleuters, wat 2 gebalanseerde etes per dag (Maandae – Vrydae) ontvang
120 Laer- en hoërskoolkinders, wat 1 ete op Maandae middae ontvang, asook groente en vrugte elke week
Arm families (dikwels ‘child headed’), wat kospakkies ontvang
Studente wat grootgeword het by die Good Hope Community Home for Children, wat kospakkies ontvang
Plaas die kos op Sondae in die Mabopane-houer by die kerk.
ALGEMENE KOSLYS
(Enige hoeveelheid en inhoudsmaat is welkom. Groter inhoudsmates, bv 5 kg rys en groot blikke van 3 kg werk makliker by die kleuterskool, terwyl die kleiner sakkies en blikkies vir die kospakkies gebruik word.)
|
Weetbix |
|
Eiers |
|
|
Hawermout |
|
Margarien |
|
|
Mabele pap |
|
Bovril |
|
|
Macaroni |
|
Grondboontjiebotter |
|
|
Spaghetti |
|
Konfyt |
|
|
Rys |
|
Stroop |
|
|
Stampmielies |
|
Kerrie poeier |
|
|
Mielierys |
|
Kitssop |
|
|
Droë boontjies |
|
Mayonaise |
|
|
Sopmengsel (lensies ens) |
|
Blatjang |
|
|
Geblikte boontjies in tamatiesous |
|
Olie |
|
|
Geblikte ertjies |
|
Tamatiesous |
|
|
Geblikte mielies |
|
Asyn |
|
|
Geblikte gemengde groente |
|
Atjar |
|
|
Geblikte vis in tamatiesous |
|
Melk (‘long life’) |
|
|
Jellie |
|
Suiker |
|
|
Lekkers |
|
Koffie |
|
|
Ingelegde vrugte |
|
Tee |
|
Baie dankie vir u hulp! Sonder u ondersteuning kan ons nie uitreik nie!
Kontakpersoon: Sini Meyer (083 455 9473 / 012 361 4497)
Diens aan besighede binne ons gemeentegrense
Ons gemeente wil graag ook die besigheidsgemeenskap binne ons grense dien. Om 'n paar voorbeelde te noem: daar is dikwels werknemers wat deur moeilike tye begelei moet word, of 'n besigheid wat dalk die behoefte het aan 'n weeklikse Bybelstudiebyeenkoms ... die moontlikhede is legio.
Besighede sal deur 'n lidmaat besoek word en die ideaal is dat persoonlike kontak, wat gereeld opgevolg moet word, sal meewerk tot die totstandkoming van goeie verhoudinge. 'n Kaartjie met die gemeente se inligting en skakelpersone se besonderhede, word dan by die betrokke skakelpersoon gelaat.
Bybelverspreiding
By die kerkkantoor is Bybels in 'n verskeidenheid tale beskikbaar en die gemeente subsidieer die aankoopprys.. Die bedrag wat deur ons boeke gaan (R2,400), is 'n baie klein gedeelte van wat deur gemeentelede aan Bybelverspreiding bestee word. Verlede jaar se bedrag was 10.4% hoër as die vorige jaar ... 'n reuse R142,324!
″Begrafnisbediening″
'n Eienaardige naam vir 'n bediening, maar 'n klompie vroue het besef dat daar 'n groot behoefte bestaan om lidmate wat geliefdes aan die dood afgestaan het, by te staan met verversings, na afloop van 'n roudiens uit die kerk. Dikwels is die paar vroue by meer as twee begrafnissie per week betrokke.
Chinese eredienste
Sedert ons gemeente 'n paar jaar gelede ons lokale beskibaar gestel het aan die Chinese gemeenskap om hul eredienste te hou, het die getalle so gegroei, dat hulle nou op Sondae om 11:00 hulle eredienste in die Gesinskerk hou. Dit is ook vir hulle 'n sosiale geleentheid van saam-eet en -kuier as gelowiges en wanneer hulle die kans gegun word om by 'n funksie van ons gemeente betrokke te wees, trakteer hulle ons met egte Chinese disse.
Die ″African-Lynnwood Outreach″
'n Groep gelowiges wat in wind en weer, aanvanklik by die Frik Eloff-park bymekaargekom het, het 'n paar maande gelede die behoefte uitgespreek om ons lokale te gebruik. Hulle kom gereeld op Sondae en een maal per maand oor 'n naweek bymekaar vir eredienste, Bybelstudie en dissipelskap-opleiding.
Die man wat die leiding neem, is 'n sekuriteitswag en hy is tans besig met sy opleiding as leke-prediker asook 'n MBA.
Die persoon gaan hierdie jaar twee Pinksterreekse vir anderstaliges in Zulu aanbied. Die eerste reeks is vroegmiddag om 15:00 en die tweede om 18:00. Dit word so beplan aangesien baie huishulpe net na 16:00 busse moet haal, en aan die ander kant is daar 'n groter groep wat veral saans die dienste wil bywoon.
CMR-kantoor
Ons gemeente stel al vir jarelank lokale kosteloos beskikbaar aan die Christelike Maatskaplike Raad (Sentraal), sodat die maatskaplike werker haar dienste aan die gemeenskap en die ander gemeentes in die Ring kan lewer. Elke Woensdag doen sy berading by Menlopark Hoërskool en is baie betrokke by ons tieners en hulle ouers. Verder is sy ook betrokke by die gemeente se Ratanang-projek. (Sien onder Gemeentevroue)
Saam met een van ons predikante word Egskeidingberadingsgroepe vir die wyer gemeenskap, reeds vir meer as 24 jaar aangebied.
Lidmate lewer ook bydraes wat aangewend word vir die Vosstraat-projek van die CMR, waar werkloses van kos voorsien word en ook 'n kleuterskool bedryf word.
Diens van Barmhartigheid
Heelwat lidmate help persone wat in nood verkeer - baie van die gevalle weet ons nie eens van nie - mens verneem soms terloops daarvan. Die Kerkraad het ook 'n fonds wat spesifiek vir sulke gevalle aangewend word. Uit hierdie fonds word behoeftes binne die gemeente aangespreek, bv lidmate wat hul werk verloor het en waar sommige geskeides en ouer lidmate dikwels in die situasie beland dat daar nie kos op die tafel is nie. Ons help ook in gevalle waar daar siekte of doktersbesoeke noodsaaklik is. Verlede jaar het ons ongeveer R31,000 bestee. Tans staan die fonds op ongeveer R4,500, wat beskikbaar is wanneer dringende hulp verleen moet word.
Gasvryheid- en Nuwe Intrekkersbediening
Die bediening maak op twee terreine 'n reuse bydrae tot ons gemeente se gemeenskapslewe. Aan die een kant met die reël van byvoorbeeld die verwelkomings-, winter-, paas-, lente- en kerstee-geleenthede na eredienste – dis 'n heerlike kuiertyd wat al ons sintuie inspan.
Aan die ander kant besoek die groepie vroue ons nuwe lidmate en nooi hulle uit na eredienste en 'n tee vir nuwe intrekkers – dit dra daartoe by dat vreemdes gou tuis voel en inskakel.
Lynnwood-Oord en Lynnmed kliniek
Die gemeente het, na die oprigting van die Oord, besef dat die Oord 'n besondere bedieningspunt in die gemeente is. Aanvanklik is een van die predikantespanlede afgesonder om die werk te doen, maar daar is gou besef dat die bediening by die Oord gespesialiseerd is en 'n Pastorale hulp-pos is geskep.
Die kollega, wat deel is van die predikantespan, is verantwoordelik vir alle pastorale besoeke, die weeklikse Bybelstudie en die maandelikse eredienste. Saam met die dienswerkers bedien hulle bykans alle inwoners, ook van ander kerke.
Lynnmed Kliniek is ook deel van die verantwoordelikhede. Afgesien van die versorging van inwoners, is dit ook 'n ″step down″-kliniek. Siekes word besoek en persone van ver, word ook bedien.
Seniorbediening
Die paar lidmate wat aan die stuur van sake by die bediening staan, reël uitstappies (vervoer word betaal deur die gemeente), konserte en geleenthede waar ons seniorlidmate kan saamkom en kuier. Op dié manier wil hulle uitreik na lidmate wat in 'n lewensfase is, waar alleenheid en die behoefte aan geselskap baie groot raak.
'n Ander behoefte van ouerwordende lidmate is vervoer. Die bediening voorsien op gereelde basis vervoer vir inkopies en doktersbesoeke aan lidmate.
Pen-aksie
'n Paar lidmate is op deurlopende basis betrokke en het besluit om op twee of drie aspekte van die bediening in die middestad te fokus. Jaarliks word van die junior bestuurders geborg om 'n seminaar oor beter bestuur en werk by te woon. Hulle besoek elke jaar ons gemeente om tydens 'n erediens inligting te gee oor die seekamp. Lidmate borg die kinders vir 'n vakansie by die see.
Deel van die bediening in die middestad, is die Tshwane Leadership Foundation ″Christmas in the Park″. 'n Kersete word vir die jongmense aangebied en die hoërskoolfonds van een van die leerders van die straat af, word gedra. Hierdie projekte maak 'n verskil aan so baie kinders se lewens en ons sal wil sien dat meer gemeentelede hierby betrokke raak. Bydraes van gemeentelede vir die afgelope finansiële jaar het R11,150 beloop.
Wespoort-projek
Dit is een van die gemeente se oudste projekte en het ongeveer 26 jaar gelede tot stand gekom, nadat die hoof van Laerskool Danville tydens 'n besoek aan die gemeente vertel het van die nood in daardie gemeenskap. Lynnwood het aanvanklik die laerskool begin help met klimrame en ander toerusting om die kinders te stimuleer, maar het baie gou besef dat ons eerder saam met Wespoort-gemeente moet werk om die groter gemeenskap te dien.
'n Maatskaplike werker is aangestel (ons gemeente is o.a. verant-woordelik vir haar salaris) en verskeie projekte is in die lewe geroep. Meeste daarvan het deurentyd dieselfde gebly en oor die jare was daar letterlik honderde van ons gemeentevroue en -mans op een of ander wyse betrokke by die projek.
Verlede jaar is R49,110 in die vorm van donasies ontvang, maar die totale uitgawe van die projek was R200,667. Vanjaar word 'n inkomste van R45,720 verwag en die gemeente het R144,365 daarvoor begroot. Daar is met NG Wespoort-gemeente onderhandel om hierdie jaar finansieel meer betrokke te raak, veral t.o.v. die kos-uitgawes. Ons gemeente begroot dus van hierdie boekjaar af nie meer daarvoor nie. Kyk gerus na die ″koskas″ by die ingangsportaal van die kerkgebou. Kosbydraes kan gemaak word deur die oranje Wespoort-sakke te neem, dit te vul en weer terug te bring.
Die Uitreik reël egter ook self fondsinsamelingsgeleenthede en ander gemeentes maak ook bydraes. Hierdie fondse word deur die uitreik self geadministreer. Sowat R80,000 per jaar word op dié wyse ingesamel vir hul eie rekening.
Ander gemeentes wat betrokke is sluit in NG Erasmia, NG Monumentpark en NG Overkruin. Laasgenoemde voorsien meubels en komberse. Die Hoërskool Tuine hou ook insamelings vir blikkieskos en ander ″droë″ produkte. 'n Selgroep van sakemanne lewer hulle dienste gratis aan die uitreik.
Daar word weekliks 'n verskeidenheid aktiwiteite aangebied: 'n speelgroep vir 25-30 kleuters, werkskeppings-, ontwikkelings en opheffingsgroepe, ouerleidingsgroepe en Bybelstudie. 'n Klerekas word ook bedryf. Kospakkies word alleenlik vir gesinne gegee wat op die een of ander manier inskakel.
Wozanibone-Kleuterskool
Wozanibone het bykans 26 jaar gelede tot stand gekom en deur die jare het van ons lidmate betrokke gebly. Alhoewel ons gemeente vir 'n geruime tyd nie direk betrokke was by die skool nie, het ons aan die begin van die jaar weer betrokke geraak toe daar versoek is om die fondse vanuit ons kerkkantoor te bestuur. Die manier waarop Rossdorff-gemeente in Frankfurt, Duitsland, betrokke geraak het, is ook 'n mooi storie. Een van ons gemeentekinders was 'n uitruilstudent in Duitsland en daardie gemeente het 'n geleentheid gesien om hier betrokke te raak. Sedert daardie jare gee Rossdorff-gemeente elke jaar 'n bydrae. Die afgelope jaar het hulle R28,141 bygedra. Uit hierdie fondse word twee versorgers betaal en kos aangekoop. Gelukkig het die Verenigende Gereformeerde Kerk ook pas besluit om in te staan vir die salaris van nog 'n persoon – R1000 per maand! Van die lidmate van Rossdorff wat verlede jaar hier op besoek was, het onlangs 300 Euros ingesamel waarmee 'n yskas aangekoop is.
'n Internasionale Maatskappy, binne ons gemeentegrense, waar 'n hele paar van ons lidmate betrokke is en in uitvoerende posisies staan, het 'n donasie van R20,000 gemaak vir die herstel van die dak en hulle help ook daar as deel van hulle gemeenskapsberokkenheid. Van die werknemers het hulle kersfunksie ″opgegee″ om eerder fisies betrokke te raak met herstel en instandhouding. Wat 'n mooi gebaar ...!
Die crèche sien om na dertig kinders van die Kanana plakkerskamp buite Bronkhorstspruit. Die kleintjies word versorg en ons poog om vir hulle ten minste een gesonde maaltyd per dag te verskaf. Die ouderdomme wissel van 5 maande tot so 5 jaar en die behoefte aan stimulasie en ontwikkeling is net so groot soos die fisiese behoeftes in hierdie arm gemeenskap. Die skooltjie word gehuisves in 'n struktuur waarvan die dak lek, die vloere is sonder matte en die klimraam is lendelam en geroes.
Wozanibone beteken om ″te kom en te kyk″ of minder direk vertaal - ″te leer.″ By Wozanibone poog ons om hierdie kleintjies die geleentheid te gee om te leer en te floreer in 'n gesonde en warm atmosfeer met vol magies en hopelik elke dag 'n glimlaggie.
Ander uitreike ...
Lidmate gee ook o.a. bydraes vir die:
Welkom by
NG Lynnwood Gemeente
© 2012 Created by NGL Admin.