Liewe lidmate
Sou mens met 'n paar tieners oor hulle ouers praat, vermoed ek dat sommige tieners die mening sou uiter dat hulle ouers na alle waarskynlikheid hulle eerste paar lewensjare in die buidel van 'n dinosourus deurgebring het. Dit gebeur dat tieners van mening is dat hulle ouers so outyds is dat hulle sterk verbintenis toon met die era van dinosourusse. Een van die gebiede wat vir tieners tekenend is van hulle ouers se agtergeblewendheid, is die manier waarop ouers en hulle kinders kyk, lees en skryf. Miskien is dit net my waarneming, maar mense kan deesdae op 'n verskillende maniere inligting versamel waarvan boeke maar slegs een manier is.
Mense skryf ook op verskillende maniere. Gooi maar net 'n oog oor jou kind se Facebook bladsy en in sommige situasies mag sommige ouers nie hulle kinders se buite-buidelse taal verstaan nie.
Tog stap ek die ander dag verby 'n bekende boewinkel en was aangenaam verras oor die hoeveelheid jongmense wat boeke bekyk, lees en dan koop. Ook moet mens deeglik in gedagte hou dat heelwat leesstof deesdae elektronies beskikbaar is via die internet - vir oud en jonk. Tydens vakansies lees baie mense maklik omdat ons meer tyd op hande het. Daarom waag ek vandag om vakansie-leesstof aan te beveel:
[1] Daar is twee boeke van Philip Yancey op my rak en beide het ek al meer as een keer gelees. Yancey se gedagtegang is toeganklik, maar sy Engels het my soms na 'n woordeboek laat gryp. Miskien is sy effens uitdagende Engels toe te skryf aan sy joernalistieke agtergrond. Die twee boeke is: "Finding God in unexpected places," en "What's so amazing about grace?"
[2] Omdat ek lief vir my eie taal is, is die tweede aanbeveling 'n Afrikaanse boek: "Spitstyd. Uitgesoekte rubrieke," van Wilhelm Jordaan. Dis my mening dat mens Wilhelm Jordaan lees soos mens Switserse sjokolade moet eet: suig stadig sodat selfs die nasmaak 'n mens aangenaam betrap.
[3] Dan kan ek web artikels aanbeveel. Jurrie le Roux skryf op die webwerf teo@teo.co.za skitterend oor die geskiedenis van eksegese. In maklik verteerbare Afrikaans verduidelik prof Jurrie hoe mense deur die eeue die Bybel op verskillende maniere verstaan het.
[4] Laastens iets ietwat onverwags. Lees bietjie 'n Asterix en Obelix boek saam met jou tiener. Die Latyn kan mens soms uitboul, maar "google" die uitdrukkings en dit mag dalk oor die generasie-grens verras. Iemand het een keer opgemerk oor my Asterix versameling: "Small things amuse small minds." Gelukkig antwoord iemand anders toe: "Dit verklaar hoekom Einstein met atome gespeel het!"
Wat jy ook al kies om te lees, geniet dit! As jy vakansie hou en baie ry, geniet die vakansie en ry veilig!
Vriendelik groete, Peet Crous
Welkom by
NG Lynnwood Gemeente
© 2012 Created by NGL Admin.
Jy moet 'n lid wees van NG Lynnwood Gemeente om kommentaar te lewer!
Join NG Lynnwood Gemeente