Liewe lidmate
Die komende naweek is 'n langnaweek en heelwat lidmate gaan weg. Sommige kuier by familie en ander gaan na 'n spesiale vakansiehuis iewers in die bosveld. Geniet dit en ry veilig. Baie lidmate bly oor die langnaweek by die huis en doen die tuinroete nadat hulle die laaste laatslaap van die winter benut het. Geniet dit in die selfde mate.
Waar jy jou ook al bevind, onthou dat dat gelowiges op Sondae ander dinge doen as om onvermoeid voort te gaan met 'n soort gedrewe slawebestaan. Sondae skei tyd. Dit maak van ons bestaan 'n lied met ritme, rym en klank. Die erediens behoort dit te weerklink - daar behoort rus en rustigheid te wees in die kerk. Op Sondae kan ons iets beleef van die luukse van Gods waters oor Gods akker. Om 'n erediens by te woon is dus nie 'n moeisame taak om af te handel nie, maar dis deel van die Sondag wat daar is vir ons plesier, vreugde en genieting.
Sondae is die prelude van die ewige Sondag. Op Sondag versterk ons die deel van ons geloof wat vertel dat ons bestem is vir die ewige Sondag. Maar terwyl ons hier is en nog nie in die hemel nie, hoe behoort 'n Sondag te lyk? Baie van ons het groot geword met erediensbywoning gevolg deur 'n maaltyd wat eers die tafel laat kreun het en daarna ons lywe. Om die ete te verwerk moes mens darem behoorlik rus en bewaar die kinders wat raas terwyl ma en pa stil is!
As ek vandag 'n alternatief bied, leen ek by twee leraars uit Europa. Calvyn, van die Refomasie, het na kerk rolbal gespeel. Van Ruler beveel 'n wandeling in die park aan of dalk 'n goeie sokkerwedstryd op TV na kerk. Juis vanuit die kerklike belewenis van heil is daar heelwat ruimte vir spel, vermaak en ontspanning.
Geniet hierdie naweek te volle!
Groete, Peet Crous
Welkom by
NG Lynnwood Gemeente
© 2012 Created by NGL Admin.
Jy moet 'n lid wees van NG Lynnwood Gemeente om kommentaar te lewer!
Join NG Lynnwood Gemeente