Brrrrr, maar dis koud!  Uiteindelik lyk dit of die winter by ons aangekom het en met mag en mening op ons gaan toeslaan. Ek dink ek moet begin tel hoeveel mense op een dag vir my sê hoe koud dit is. Dis asof elkeen se woorde my help tuis kom in die winterseisoen. ‘n Vriend van my, dr James Kirkpatrick het gister twee keer gesê hy sien uit na die koue winterweer wat oppad is.  Dit het my skoon verras want meestal word oor die koue grou weer gekla.  Sy houding jeens winter maak die ervaring daarvan anders. 

Die winter het sy eie bekoring van knus klere, warm serpe, stomende koffie, knerskoud winterlug, die reuk van sop wat die huis vul, 'n warm kaggelvuur, snoesige warmte in die bed en bloedrooi sonsondergange met 'n glas rooiwyn in die hand.  Maar in die winter is daar ook ‘n  ervaring van ons broosheid teen die elemente, die behoefte aan hitte en die vreemde gevoel as die winter in jou hart kom lê.  Winter koel soms dinge so diep af dat jy soos ‘n boom sonder takke weerloos voel teen die koue aanslag.

Die ritme van die lewe kan gevind word in die ritme van seisoene.  In ons lewe is daar lag en traan, seer en satisfaksie, donker dae en blinklig dae.  Meestal kan ons daaraan nie veel doen nie.  Die seisoen kom, al bied ons weerstand.  Van die begin van die skepping af was dit die siklus van die lewe. Dit is soos ‘n wiel wat draai met onstuitbare momentum. 

Wanneer die winterseisoen diep in ons binneste aanbreek, is daar verskillende houdings waarmee ons dit kan benader.  Ons kan daarteen in opstand kom, dit probeer ontken of die heeltyd daaroor kla.   Party probeer voorgee dat dit somer is deur strandklere te dra, maar eintlik is dit bitter koud binne-in.  Kan daar ook rykdom in die wintertyd wees?  Kan mens ‘n vorm van diep vreugde ervaar te midde van die wintergrou in jou lewe?

Dis verrassend dat Paulus skryf “ons verheug ons ook in die swaarkry” (Rom 5:3 en lees verder!).  Petrus bevestig dit met “verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle ‘n kort tydjie bedroef gemaak word  deur allerhande beproewings”(1 Petr 1:6).  Verskeie ander tekste in die Bybel verwoord die rykdomme wat opgesluit is in die wintertye van ons lewe.  As ons die winter nie ontken nie, maar dit eerlik en oop tegemoet gaan, ontsluit ‘n verrassende skatkis.  Die gawes wat opgesluit is in die winter sal jou asem wegslaan.

Wanneer dit winter in jou hart is, gaan met vrymoedigheid na die genadetroon van God.  Hy is dié Een is wat werklik  verstaan en wat medelye het.  Hy het immers self gely!  Ons is wonderbaarlik ingesluit in Jesus se dood en opstanding.  Deur ons verbintenis aan Jesus se lyding en dood deel ons in sy rykdomme wat hy uit die winterskatkis haal.  Ons ontdek GOUD, suiwer goud, ons geloof is kosbaarder as goud(lees1 Petr 1:7!).   Jy ontdek volharding, geloof, egtheid van geloof, hoop en die teenwoordigheid van die Heilige Gees in jou swaarkry(Rom 5:5).

Wanneer die winter in jou hart kom lê, haal jou warm klere uit die bedompige kas.  Wat van ‘n mus op jou kop wat jou nuut laat dink oor jou winter?  Trek die mus lekker laag af oor jou ore dan sal jy nie al die gekla kan hoor wat mens verder afbreek nie.  Draai ‘n lekker dik snoesige serp om jou nek sodat jy met nuwe woorde kan begin praat oor jou seer en swaar.  Dis nie nodig om kortmou die bitterkoue tegemoet te gaan nie.  Die Parakleed is die jas wat jou omvou en met die vuur van Gees wat jou inspireer!  En om die wintermode mooi af te sluit, trek jou winterstewels aan.  Dit stel jou in staat om op te staan uit jou mismoedigheid en ander mense wat saam met jou op die reis van die lewe is te ontmoet. 

Klink 'n glasie saam op die seisoene van die lewe!

Views: 1257

Tags: Predikante

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van Lynnwood Gemeente om kommentaar te lewer!

© 2021   Created by NGL Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service