Dagsê
As jou fyn ruik goed werk, sal jy ook uit die hoek van jou oog die jasmynblommetjies kan raaksien wat se lekker ruik wil sê die lente is amper hier, al lyk en voel dit nog soos winter. ’n Sekere iemand met die naam Frank Johnson sê dat lente is die resultaat van God wat in goud dink, in blou lag en in groen praat. Die wonder van lente is dat dit oral blomme bring waar dit bietjie dag gelede nog die ene winter was. Dis die tyd wanneer ’n mens se fyn kyk oral verras kan raak... om te kan raaksien hoedat die Here toe al die tyd besig is om oral nuwe lewe te skep ook daar waar ek nie gedink het dis moontlik nie... dat Hy toe al die tyd daar is, ook toe ek nie gekyk het nie... dat Hy sorg, selfs ook toe ek vergeet het om te vra. Dis hierdie fyn ruik en fyn kyk met die begin van lente wat jou ook bewus maak van die verrassings in jouself.
Dis juis in hierdie half winter, amper lentetyd van die jaar wat my baiemaal stomslaan oor hoe min ek raaksien of bewus is van wat alles sommerso om my gebeur sonder dat ek dit verstaan of dit te gehoef maak werk het. Want dis mos wintertyd se gedagtes en nadraai wat ’n mens altyd aan die top het oor... nie wat alles met my gebeur het nie, maar veral oor wat ek toe alles gemaak het wat met my gebeur het.
So lees ek van hierdie iemand wat gesê het... as ek my lewe kan oorhê, sal ek baie meer speel en nie alles so met oordrewe erns bejeën nie. Ek sou baie meer berge gaan klim en in riviere swem. Volgende keer sal ek vroeër in die lente begin kaalvoet loop en my skoene uitskop tot laat in die herfs. Ek sal my nie afsloof om die hoogste simbole te behaal nie, tensy ek dit geniet om daarvoor te werk. Ek sal meer dans en op meer mallemeulens ry en elke dag madeliefies pluk... jasmynblommetjies wou ruik. Ek dink Bejamin Franklin se manier van sê hieroor laat dit nie soos ’n verspeelde lente klink nie. Hy sê... as ek kon kies, sou ek my lewe onveranderd wou oorhê, maar soos ’n skrywer sou ek darem die kans wou kry om die foute in die eerste uitgawe te kan herstel voor die herdruk verskyn.
Geniet wat jy het sonder om dit te wil om-wens of oor-wens of dalk anders-wens... want op ’n manier begin alles in die lewe, so met die lente saam, elke keer op ’n manier weer nuut... soos wat die liewe Here dit met lente nuutmaak... jy moet net fyn genoeg kan ruik en kyk daarvoor !!!
Groetnis
Johann Voges
Welkom by
NG Lynnwood Gemeente
© 2012 Created by NGL Admin.
Jy moet 'n lid wees van NG Lynnwood Gemeente om kommentaar te lewer!
Join NG Lynnwood Gemeente