Liewe vriende,
Verlede week was ons predikante op 'n retreat, vandaar die feit dat ons nie 'n Kontak uitgestuur het nie. Die stilte en gesels oor jou lewensreis, waarmee die Here besig is in jou lewe en teologiese waarhede, was baie goed. Dan besef mens opnuut wat regtig betekenis in jou lewe gee.
Dit sluit ook aan by die tweede sleutelbeginsel waarvan Alex Pattakos praat. Ons het in die vorige Kontak oor elkeen se vryheid om jou gesindheid te kies gepraat. Vandag gaan dit oor die behoefte aan betekenis of sin in ons lewens.
Die een manier hoe mense na betekenis soek, is om te dink dat die behoefte aan plesier/genot, belangrik is. Ons sien dit wanneer ons kyk na die uitspattige lewensstyle en funksies wat gereël word. Dink maar aan die hoofde van groot maatskappye in die VSA, wat maatskappye se geld gebruik om die "honger" te stil. Ons kan maar net aan ons eie land dink waar die belastingbetaler se geld (in die ou en nuwe bedeling!) gebruik is. Welgesteldes en "gewone" mense doen dit ook. Sigund Freud sal trots op hulle wees. Hulle leef immers sy "pleasure principle " uit.
Die ander manier is die strewe na mag - Alfred Adler se strewe na "superiority". Hierdie twee, die strewe na genot en mag, loop gewoonlik hand aan hand. Hiervan kan ons genoeg voorbeelde in ons samelewing kry, dikwels ook in die kerk! Eintlik, sê Victor Frankl, is die twee net 'n poging om 'n groot leemte aan betekenis, in die mense se lewens te probeer opvul. Miskien, sê Pattakos, is dit soms juis die materiële oorvloed waarmee die genot en mag geassosieer word, wat ons vermoë om ons spirituele bewustheid (awareness), die inherente skoonheid en betekenis van ons lewens te vier, verhinder.
Dit is net die soeke na betekenis in jou lewe wat die potensiaal het om outentieke verryking en vervulling in jou lewe te bring. Dit het alles te doen met betekenisvolle waardes. Waardes wat die lewe die moete werd maak om te leef. Hierdie betekenis, kom van binne mens self. Net jyself kan dit vind, beheer en laat werk in jou lewe.
Dalk moet ek en jy 'n stil tyd inruim en ons verbeel ons sit op 'n hoë berg en kan terugkyk op ons lewens. Maak 'n kaart van al die hoogte- en laagtepunte wat jy kan onthou, skryf neer watter mense by elk betrokke was en watter waardes hulle aan jou lewe toegevoeg het. Waar het jy die teenwoordigheid van die Here spesiaal ervaar? Watter rol speel Hy in jou lewe? Watter geloofswaardes rig jou lewe? Jou lewe het verseker sin. Dis jou verantwoordelikheid om daarna te soek. Dié "honger" word nie van buite af gevoed nie.
Liefdegroete en seënwense,
Pieter en Daleen.
Welkom by
NG Lynnwood Gemeente
© 2012 Created by NGL Admin.
Jy moet 'n lid wees van NG Lynnwood Gemeente om kommentaar te lewer!
Join NG Lynnwood Gemeente