Liewe Vriende,
In 'n sekere sin voel hierdie paar dae voor die skole heropen, soos die laaste oomblikke van die stilte voor die groot stormloop in 2012 begin. Mag jy in 2012 die Here se teenwoordigheid in jou lewe op spesiale maniere beleef en jy bewus wees van Sy oneindige liefde vir jou.
Die eerste van ons vier kwartaaltemas, is "eenwees". Wat word hiermee bedoel? Dit beteken, onder andere, dat ek daarvan bewus sal wees dat God elke dag "hier en nou" is; dat Hy orals teenwoordig is, selfs op onwaarskynlike plekke. Op sy beurt moet hierdie wete, my hele lewe, my "being" beïnvloed. Ek moet weet hoe om binne die wete "rus" te vind, hoe die eenwees met God ook betekenis het vir my eenwees met myself en die wêreld rondom my.
Deuteronomium 6 vers 4 tot 9 verwoord iets van die "eenwees." Ons liefde vir die Here met ons hart en siel, met al ons krag, moet in ons gedagtes bly. Dis iets waaroor jy praat, jy by jou kinders inskerp, in jou huis, oppad, as jy gaan slaap en opstaan. Dit moet jou dade kenmerk (herinneringsteken op jou hand), dit moet gesien word in die manier waarop jy dink, praat en leef (merk op jou kop). Jou gesinslewe (deurkosyne) en jou gemeenskapslewe (stadspoorte) moet van die teenwoordigheid van die Here in jou lewe getuig.
"Van my kroontjie tot my toontjie," my alles moet hiermee deurtrek wees!
Ek sou graag 'n klompie praktiese voorbeelde wou bespreek, maar dit kom 'n volgende keer, want ek wil graag die volgende woorde van Herman Bavinck met jou deel wat iets van die "hier en nou wees" van die Here beskryf:
"Ek glo aan 'n geheimsinnige Iemand wat naby my is,
wat binne-in my is,
wat my armsalige gespartel en gespook sien en wat my dan stilletjies vashou
en my van binne uit weer innerlike krag gee.
Ek het dit vele male in my lewe ervaar
as ek wegsink en meegevoer word deur die strome van die lewe
wat my na onder wil trek.
Maar ek het ook in beslissende momente in my lewe ondervind
dat ek opgetel en hoog bo die water gedra word.
Daar was oomblikke dat ek my Bybel sou oopslaan
en elke woord daarin vir my dof en vervelend geklink het.
Maar ek het ook oomblikke beleef waarin die woorde
as't ware op my afspring, waarin dit glinster en my lewe vul.
En altyd weer was ek oortuig dat daar Iemand in my moet wees,
Iemand wat my vashou,
Iemand wat my saggies maar ferm in die arms toevou.
Ek glo in die Heilige Gees.
Vriendelike groete en seënwense,
Pieter Oosthuizen
namens die predikantespan
Welkom by
NG Lynnwood Gemeente
© 2012 Created by NGL Admin.
Jy moet 'n lid wees van NG Lynnwood Gemeente om kommentaar te lewer!
Join NG Lynnwood Gemeente