Liewe vriende,


Maak seker dat jy nie hierdie naweek ons paasspel, tydens die oggenddiens, en die paastee net daarna misloop nie!



Die boek Job se gedagtes oor vriendskap, sit mens aan die dink. Ek het verlede keer afgesluit met die volgende gedagte: Job se hulpelose klag is eintlik ‘n
pleidooi vir ‘n vriend wat hom kan help om sy smart te dra. Hy het die soort
vriend van hf 6 vers 14 nodig – ‘n radikale vriend. In hierdie Kontak meer
hieroor.



Radikale lojaliteit


Vers 14 van hoofstuk 6, is eintlik die sleutelvers van die deel.


In die 1983 vertaling staan: Wie medelye met ‘n vriend beskou as ‘n las, het die eerbied vir die Almagtige verwerp.” Omdat die
eintlike woorde in Hebreeus dalk te erg vir vertalers in die verlede geklink
het, is die inhoud van die vers “versag” soos hierbo. Letterlik staan daar iets
soos:


“’n Moedelose mens het die lojaliteit van ‘n vriend nodig as hy sy vertroue in die Almagtige verloor”.



Mens kan dus aflei dat ‘n vriend volgens die gedeelte:


· is ‘n lojale metgesel, iemand wat trou en lojaliteit betoon in krisistye – ‘n soort
trou wat impliseer dat daar ‘n diepe besorgdheid en innerlike rapport tussen
julle is, wat selfs persoonlikheidsbotsings oorkom;


· dit sluit ‘n basiese vertroue in wat mense in staat stel om in so ‘n “verbondsvriendskap”
te leef; (dis die soort trou wat in Dawid en Jonatan se verhouding te vinde was
wat Jonatan kan laat sê in 1 Sam 20:14 ev : En
as ek dan nog lewe,
moet jy die trou
van die Here aan my betoon, sodat ek nie sterwe nie.
In Dawid se verhouding
met Jonatan was daar sterk ooreenkomste tussen menslike trou en die trou van
die Here .. Dawid het dit gelééf.);


· die skrywer van Job gaan verder, hy soek die soort trou / lojaliteit wat verder gaan, wat selfs by jou vriend sal
staan as hy sy geloof verloor het, as daar niks anders is om op te steun nie.


Dit klink of Job sy “vrees (ontsag, respek) vir die Here” verloor het, terwyl dit in die wysheidsboeke, nie net die begin van alle kennis is nie, (Spr 1:7) maar ook die begin van wysheid, (Job 28:28) dit verleng mens se lewe, (Spr
10:27) is die fontein van die lewe en
bron van groot sekerheid, (Spr 14:26-27).


Maar wat gebeur nou as mens jou geloof in die Almagtige verloor, as Hy nie meer die een is wat jy gedink het jy ken nie?


Job sê dus: wat vriende saambind is nie hul geloof nie, maar ‘n menslike medelye (compassion) wat oorleef as alles anders wegval.



Die vraag op die ou end vir ons is: wat bind my en my vriende saam? Hoe lyk ons vriendskappe?


Volgende keer: waarom het Job gevoel sy vriende het hom verraai?



Liefdegroete en seënwense.



Pieter en Daleen Oosthuizen


Jy is welkom om met ons kontak te maak by: pieter@oosthuizen1.co.za


Views: 36

Tags: Predikante

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van Lynnwood Gemeente om kommentaar te lewer!

© 2021   Created by NGL Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service