Liewe Vriende,
Ons kwartaaltema in die gemeente is: "gemeenskap."
Deur die geskiedenis het dit dikwels gebeur dat gelowiges hulleself "eenkant" hou, saamtrek in groepe gelowiges wat dieselfde dink en dan nie graag wil betrokke raak by mense wat anders as hulle dink en doen nie. Mens het dit dikwels in gemeentes gesien waar Bybelstudiegroepe of omgeegroepe maklik ontaard het in "broeigroepe", eerder as "groeigroepe." Mens sou die voorbeelde kon opstapel ... want dis op die ou end nie net waar van ons lewe in die kerk nie, maar op alle lewensterreine. Blootstelling aan ander bring onder andere mee dat ons oortuigings getoets word, dikwels verandering vra en daarvan hou ons niks. Dit maak mens onseker.
Kyk ons na die genadeboodskap van die Here en Sy opdrag aan ons, sy volgelinge, is so 'n lewenshouding onhoudbaar. Om net 'n paar voorbeelde te noem: Abraham moes 'n seën wees vir die nasies en dit kon hy alleen doen as hy onder hulle gaan woon en werk, deel van die gemeenskap word. Jesus Christus sê ons is sout en lig en dit kan ons alleen wees as ons die gemeenskap "infiltreer". Isolasie sou beteken dat ons nie kan smaak gee nie. Jesus self het die Evangelie strate toe geneem, daar waar die ongelowige, die behoeftige, die "opsy-gestote" mense was. Daar het Hy 'n verskil gaan bring in hulle lewens. Wanneer Paulus sê dat ons as gelowiges 'n "aangename geur", God se parfuum in die wêreld is, hoe op aarde sal die wêreld die parfuum-reuk kry as ons dit nie vrystel en onder hulle beweeg nie?
Gemeenskap is baie meer as die groep gelowiges wat vergader by Lynnwood. Ons bly in 'n gemeenskap wat ryk is in die verskeidenheid van sy samestelling. Ons woon in 'n stad, 'n land, 'n wêreld. Dit alles en die mense behoort aan God en jy en ek het 'n verantwoordelikheid om daarin te leef en werk tot Sy eer.
Hoe ruik jou "parfuum"? Is ek sout en lig, 'n seën in die gemeenskap? Ons behoort te wees ...
Gelukkig kán ons ... want ons is tot alles in staat deur Christus wat ons krag (die vermoë) gee.
Mag jy die seën wat jy van die Here vra, ook deel met ander om jou.
Vriendelike groete,
Pieter Oosthuizen
namens die predikantespan
Welkom by
NG Lynnwood Gemeente
© 2012 Created by NGL Admin.
Jy moet 'n lid wees van NG Lynnwood Gemeente om kommentaar te lewer!
Join NG Lynnwood Gemeente