NG Lynnwood Gemeente

Kontak 13 Augustus 2010 Broei of Breek werk nie!

“Wat jy is, skree so hard in my ore, dat ek nie kan hoor wat jy sê nie”, is ‘n baie waar aanhaling van Stephen Covey. Mense is slimmer as wat ons dink. Ons dink ons kan dieper bedoelings (intensie) met maskers wegsteek en dan met mooi woorde kamoefleer. Maar iets gee jou weg; jou oë, stemtoon, lyftaal, woordkeuse, stiltes en baie ander vorme van nie-verbale kommunikasie.

Dalk voel jy ‘n diep aversie (negatiwiteit) teenoor iemand anders. Om dit te probeer verbloem of vrylik uit te leef kan albei baie diep ingrypende skade in jouself en in ander aanrig. Mense sal jou intensie aanvoel, al wil jy nie hê hulle moet weet wat jy voel nie. Om net jou woede en veragting vrye teuels te gee breek die kans op vir betekenisvolle selfkennis en opbouende verhoudings. Broei of breek werk nie!

Hoe nou gemaak? Raak bewus van jou bedoelings, intensies en houdings. Besef dat daar baie energie daar diep lê. Onthou jy kan net iets met jou intensie maak as jy bewus raak daarvan. As jy dit egter ontken sal dit ‘n rol speel in jou lewe en verhoudings of jy wil of nie.

Wanneer ons ‘n negatiewe intensie of houding teenoor iets of iemand ontdek, wees dankbaar dat jy dit kon herken. Jy hoef nie van almal of alles te hou nie, maar jy kan die beste bedoeling jeens iemand anders huldig! Jy kan die intensie hê dat iemand anders as mens floreer en gelukkig kan wees, al hou jy nie van die ander persoon nie.

Om in kontak te kom met hierdie intensie, kan nuwe energie skep wat jou nuut laat optree. Dan pas jou optrede en woorde by jou hart(kongruensie). Ek glo die Gees kan daardie werk in jou doen as jy meegee... Dan kan jy eerlik probeer kommunikeer, sonder om te broei of te breek.

Die krag van intensie werk ook positief soos wanneer jy dalk iets doen wat skade aangerig het, ervaar mense jou anders omdat hulle oortuig is dat jou intensie nie afbrekend was nie.

Dink bietjie hierdie week hoe jou ingesteldheid teenoor die lewe, werk, mense, instansies en jouself jou lewe ingrypend beïnvloed.

Groete en sterkte op die pad!
Immanuel van Tonder

Views: 8

Tags: Predikante

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van NG Lynnwood Gemeente om kommentaar te lewer!

Join NG Lynnwood Gemeente

© 2012   Created by NGL Admin.

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service