NG Lynnwood Gemeente

Kontak 13 Oktober 2011 Om te bly glo as alles verander ...

Liewe Vriende,

Ek werk op die oomblik deur die gemeente se Kerkraadsnotules. Dit is insiggewend en een van die gedagtes wat by my bly steek is: hoe het "tye" nie verander nie!

Mens kan skaars glo oor watter sake passievol gepraat is op Kerkraadsvergaderings, oor die "verderflike musiek" waarna jongmense luister, die stryd oor huishulpe wat in die kerksaal kon kerkhou pleks van in motorhuise, besware oor die feit dat 'n erediens in Engels gehou is, ensovoorts. Daar is nog vele ander wat mens verstom. Kyk mens terug, kan jy nie glo dit was sake waaraan so baie aandag bestee is nie! En kon ons nie regkom nie, is die regering se hulp sommer ingeroep!

Veranderde omstandighede, "tye" wat verander, het my aan 'n gedeelte in die Ou Testament laat dink wat ons selde lees: Genesis 49:19 - 50:26. Die laaste hoofstuk van Genesis handel oor 2 begrafnisse, die van Jakob en Josef.

Jakob, pa van Josef,'n eenvoudige skaapwagter, sterf en kry amper 'n staatsbegrafnis. Hy word 40 dae lank gebalsem, Egipte rou 70 dae lank oor hom. 'n Groot begeleide vergesel die familie om hom te gaan begrawe en oppad rou hulle nog 7 dae!.

Toe Josef (voorheen onderkoning in Egipte) sterf, lees ons in vers 26 net: hulle het hom gebalsem en gekis! Net dit.

Waarom? Ek wonder. Al wat ek kan aflei uit die gedeelte en geskiedenis, is die volgende: tye verander en omstandighede versleg ... van al die hoogte- en laagtepunte in die lewe, kan Josef getuig. Ook om ten spyte daarvan tot eer van God te bly leef. Lyk my, die geheim is dat ons geroep is om in ons omstandighede te leef tot eer van God, nie 'n slagoffer-houding in te slaan nie, dit sou Josef nêrens bring nie.

As sy broers bang is vir Josef se wraak, na alles wat hulle hom aangedoen en wat verkeerd gegaan het in sy lewe, lees ons sy "geloofsbelydenis" in verse 19-20. "Moenie bang wees nie. Ek is nie God nie. Julle wou my kwaad aandoen, maar God wou daarmee goed doen ...

Wat sê hy? God is uniek, Hy werk in mense se lewens om 'n rede. God se bedoelings is goed en dan praat hy in vers 24 ook van God se beloftes. God is betroubaar, te alle tye. Ook al verander alles rondom jou.

As jou geloof gebou is op 'n persoonlike verhouding met God, sal veranderde omstandighede jou raak, jou uitdaag, maar nie jou lewe regeer nie.

Tye kan verander, dit kan verbeter, of versleg, dis onbelangrik. Die belangrike vraag is: watter impak het jou verhouding met God op jou lewe? Wat glo jy van Hom? Wat sê jy van Hom? Hy gee jou die vermoë deur die Heilige Gees om onder goeie of slegte omstandighede soos 'n koningskind te leef en 'n verskil te maak. En ook na jou "kwaaddoeners" met liefde te kyk, hulle te troos en te versorg (21). Lees gerus die klompie verse, dit laat mens dink.

Vriendelike groete,

Pieter Oosthuizen

namens die predikantespan

 

 

Views: 12

Tags: Predikante

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van NG Lynnwood Gemeente om kommentaar te lewer!

Join NG Lynnwood Gemeente

© 2012   Created by NGL Admin.

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service