IEWERS KLINK DIE EGGO
NOG ‘N SKOOT UIT ‘N GEWEER
IEWERS VLUG DAAR DIERE
EN ‘N GROOT BOOM VAL NEER
IEWERS IN DIE VERTE
WORD NOG ‘N STAD GEBOU
IEWERS VAAR ‘N VRAGSKIP
OOR DIE SEE SE LAASTE BLOU
EN IEWERS ONDER ALLES
SUG MOEDER AARDE SWAAR
SY KYK OOR HAAR SKOUER
SY TEL NOG ‘N JAAR
SY DINK AAN TOE SY JONK WAS
EN MOOI EN SONDER PYN
MAAR NOU IS DINGE ANDERS
SY VOEL DIE LEWE VERDWYN
SY VRYF HAAR MOEË BENE
SY’T ‘N LANG PAD GELOOP
SY WONDER OOR HAAR KINDERS
DIS HAAR HEEL LAASTE HOOP
SY VOU HAAR HANDE SAAM
SOOS ‘N EENSAAM GEBED
O, WANNEER GAAN ONS LEER
SY’S AL WAT ONS HET
MOEDER AARDE DRAAI HAAR OM
UIT DIE SON SE ERGSTE BRAND
EN SY DROOM VAN DUGTE WOUDE
EN HAAR OË WAAI VOL SAND
SY SOEK NA HAAR KINDERS
MAAR HUL DANS NOU MET MUSIEK
LANGS DUISEND VUIL RIVIERE
LANGS BERGE VAN PLASTIEK
SY VRYF HAAR MOEË BENE
SY’T ‘N LANG PAD GELOOP
SY WONDER OOR HAAR KINDERS
DIS HAAR HEEL LAASTE HOOP
SY VOU HAAR HANDE SAAM
SOOS ‘N EENSAAM GEBED
O, WANNEER GAAN ONS LEER
SY’S AL WAT ONS HET
Met my inkopielys jaag ek Menlyn toe om vir al my geliefdes die perfekte geskenk te soek. Op die radio sing Laurika – Sy is al wat ons het. En ek besef met ‘n groot skrik dat ek iemand op my geskenkelys uitgelaat het – Moederaarde. Wat sal ek vir haar hierdie kersfees gee? En waarin sal ek dit toedraai? In Menlyn se parkeerterrein begin ek ‘n paar ‘geskenk idees’ neerskryf, want hierdie kersfees moet ‘n groener kersfees wees.
Vyf ‘geskenk idees’ vir Moederaarde, wat hierdie kersfees ‘n groener kersfees sal maak:
• Koop ‘n inheemse kersboom: ‘n Witstinkhout, Vaderlandswilg of Papierbas maak die perfekte Afrika-kersboom. Na kersfees kan julle die boom in die tuin plant of miskien aan die gemeente se Ekologie bediening skenk.
• Gebruik ‘groener’ geskenkpapier: Indien moontlik gebruik geskenkpapier wat van gehersirkuleerde papier gemaak is. Of nog beter draai jou geskenke in koerantpapier, tydskrifte of strokiesprente toe.
• Kies jou batterye reg: Baie geskenke, veral speelgoed, benodig batterye. Oorweeg dit om herlaaibare batterye te koop – hulle is ‘n bietjie duurder, maar hou baie langer en is beter vir die omgewing.
• Skakel af: Voordat julle in die pad val – onthou om die geiser, kersfeesliggies en al die elektriese toestelle af te skakel. Indien moontlik ontdooi en skakel jou yskas en vrieskas ook af.
• Hersirkuleer: Kersfeestyd is ‘n tyd van feesviering en baie eet. En saam met feesvier en baie eet kom groot hoeveelhede glas, plastiek en papier. Probeer om soveel moontlik van julle papier, glas en plastiek hierdie kersfees te hersirkuleer. Dit is ook die ideale tyd van die jaar om met ‘n komposhoop te begin.
Mag jy en jou geliefdes ‘n geseënde (en groener) kersfees hê.
Lekker laaglê en rus!
Fay (namens die predikantespan)
Welkom by
NG Lynnwood Gemeente
© 2012 Created by NGL Admin.
Jy moet 'n lid wees van NG Lynnwood Gemeente om kommentaar te lewer!
Join NG Lynnwood Gemeente