Liewe vriende,
Francis Quarles (1592-1644) het gesê dat: "Man is Heaven's masterpiece." Ek wil graag Ferdinand Deist se gedagtes hieroor in sy dagboek: "Wat van Vandag?" met julle deel.
"Ons leef dikwels te veel uit Genesis 3 se sondeval en te min uit Genesis 1 en 2 se skepping - miskien juis omdat ons soveel foute maak en onsself so moeilik daarvoor vergewe. Genesis 3 sê ek en jy het 'n swakheid om voortdurend van God af te wil wegvlug, om vervreem te word van mekaar en die natuur. Maar Genesis 1 en 2 sê, soos Francis Quarles, dat ons God se meesterstukke is, sy beeld, sy handewerk. Psalm 8 sê ons is net effens minder as 'n goddelike wese. En die Nuwe Testament sê Christus het gekom om my en jou te verander van die mens in Genesis 3 na die mens in Genesis 1 en 2: mense in harmonie met God, met mekaar en die natuur.
As ek en jy in God leef, kan ons ons koppe optel, kan ons God dank dat ons mense, sý mense, is.
Kom ons leef vandag soos die hemel se meesterstukke!"
Die Kunsteweek in ons gemeente, is agter die rug, maar God se kunstenaarswerk gaan elke dag in my en jou voort.
Die groot Kunstenaar het ons in diens geneem om "klein" kunstenaars te wees. Ons kan meewerk aan Here se kunswerk in mekaar en die natuur, met dié liefde en respek wat Hy ons kom leer het.
Vriendelike groete en seënwense,
Pieter Oosthuizen
(namens die predikantespan)
Welkom by
NG Lynnwood Gemeente
© 2012 Created by NGL Admin.
Jy moet 'n lid wees van NG Lynnwood Gemeente om kommentaar te lewer!
Join NG Lynnwood Gemeente