Liewe vriende,
Wat is die rol wat elkeen van ons speel in die bou van vertroue? Dis met die gedagtes in my kop vir die week se Kontak, wat ek toe gou kyk wat Peet en Immanuel geskryf het. Ons het nie afgespreek om oor vertroue te skryf nie, maar dieselfde tema lê op ons harte, al is dit uit verskillende hoeke!
In 'n nuusbrief oor die onderwerp, het Maritz Navorsing gewys dat net 11% werknemers sterk vertroue in hul organisasies se leiers het. Erger nog: net 7% werknemers het gesê dat hulle mede-werknemers vertrou om na hul belange om te sien!
Ek vra my af: hoe gaan dit in die kerk? Veel beter? Kyk ek na die media en praat met lidmate, is ek seker daar is ernstige vertrouens-uitdagings, nie net in die kerk nie, maar ook in huwelike en gesinne. Randy Conley van die Ken Blanchard Maatskappye, sê: "Trust is at the foudation of all relationships - whether it is personal or organisional."
Dit behoort vir ons, kinders van die Here, glad nie vreemd te wees nie. Die Bybel is vol van die noodsaak van vertroue. God is die Getroue, die Betroubare en dis presies wat van ons as Sy navolgers gevra word. Om ook getrou te wees, betroubaar. Dit vra werk, want so dikwels trap ons in die wippe wat vertroue afbreek.
Elkeen van ons het die verantwoordelikheid om daaraan te werk. Of dit tuis, by die werk of in die kerk is, ons kan dit nie ontkom nie. Die Ken Blanchard Groep praat van die ABCD model en aan al vier gedragspatrone moet gewerk word.
Die A staan vir "Ability" - en het te doen met jou vaardighede of vermoëns om vertroue te bou.
Die B staan vir "Believable" - en het alles te doen met jou karakter, integriteit en waardes.
Die C staan vir "Connectedness" - en het te doen met die omgee en die besorgdheid wat jy demonstreer teenoor ander en jou vermoë om met hulle 'n verhouding te bou.
Die D staan vir "Dependability" - en het te doen met betroubaar wees en om jou verbintenisse (commitments) deur te voer.
Lyk my as ons vertrou wil word, sal dit nie help om kop in die grond te steek soos 'n volstruis nie. Dit sal ook nie help om in die koor te gaan staan en kla omdat daar geen vertroue is nie, vertroue begin by my en jou, wat is ek en jy bereid om hieraan te doen? Hierdie is 'n uitdaging vir ons almal en voor vertroue regtig gebou of herstel kan word, moet al vier die vaardighede in plek kom.
Elkeen van ons staan in een of ander verhouding. By die werk as werkgewers of werknemers, in ons gesinne, in verhoudinge en in die kerk. Geen leier of volgeling kan hom of haar hiervan verskoon nie!
Wat gaan ons, wat sê ons is gelowiges, en hiervan voorbeelde moet wees, hieraan doen?
Vriendelike groete en mooi wense,
Pieter en Daleen
Welkom by
NG Lynnwood Gemeente
© 2012 Created by NGL Admin.
Jy moet 'n lid wees van NG Lynnwood Gemeente om kommentaar te lewer!
Join NG Lynnwood Gemeente