NG Lynnwood Gemeente

Liewe Vriende,

Wanneer mens kuiermense kry, of 'n vakansie beplan, of 'n fees reël, is daar altyd baie voorbereidings. Die lekker deel dan daarvan, is die uitsien of afwagting wat mens opgewonde maak. Ons verwag dit gaan lekker wees!

Ons is weer oppad na so 'n voorbereidingstyd toe in die kerk: Adventstyd. Die woord beteken: "koms" of "aankoms." Dis 'n tyd wat die laaste 4 Sondae voor Kersfees begin, waartydens die koms van die Here Jesus na die wêreld toe en dat Hy nog steeds elke dag in ons lewens en harte kom, gevier word. 'n Tyd waarin ons ons voorberei vir Kersfees.

Iemand het geskryf dat elke Sondag se liturgie (al die gebede, sang en handelinge in die erediens), in 'n sekere sin die aankoms van God by die mens, vier. Die advente Domini,  die aankoms van God by jou en my in elke preek. God se tyd kom deurkruis ons tyd in die erediens, op baie ander maniere en plekke.

Maak ons plek vir verwagting in ons voorbereidings vir dié fees? Ek dink daar 's baie fasette aan ons verwagtinge: ons en ons kinders dink dalk aan presente, 'n lekker familiefees, of sommer 'n lekker rustyd.

Ek voel tog daar behoort iets dieper te lê in ons verwagting. Wat verwag of waarna sien ek uit wat IN my gaan gebeur? Die Here kom tog IN my en dit bring verandering, groei, nuutheid, nuwe drome en 'n nuwe belewenis van Sy koms in my lewe? Dalk sal dit my help as ek onthou dat die kerk tradisioneel die eerste drie Sondae van Advent in 'n gesindheid van verootmoediging gevier het? Enige feestelike ontmoeting met die Here vra dié soort voorbereiding.

 

Koos van der Merwe het in sy digbundel "Optelwoorde", die volgende gedig geskryf:

Inkarnasie

êrens in strate van stof

êrens in stede van klip

Hy het by mense van klei kom woon

lig het met donker kom praat

sondaar en Redder was saam

verlore verdwaal het ontmoet met hoop

 

krisis verkrummel deur krag

leuen deur die waarheid oorwin

stukkende mense het Hy verbind

ek sal my lewe ook bring

ek sal kom buig voor my Heer

en aan sy voete sal rus my vind

 

as U my red, is ek vry

rig U my op, kan ek leef

raak met u hand aan die stof in my.

 

Vriendelike groete en seënwense,

 

Pieter Oosthuizen

namens die predikantespan

Views: 14

Tags: Predikante

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van NG Lynnwood Gemeente om kommentaar te lewer!

Join NG Lynnwood Gemeente

© 2012   Created by NGL Admin.

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service