Maak huis en hart skoon

Daar is ‘n mooi tradisie wat rondom Paasfees in Europa ontstaan het. Baie huisgesinne maak in dié tyd huis skoon. Regtig!

Hulle gaan deur hulle kaste en huise met die doel om weer netjies te maak, maar veral ook om weg te gooi of weg te gee.

Met die langnaweek en Paastyd voor die deur, is dit dalk ‘n goeie idee om huis skoon te maak! Dalk kan jy van die klere, meubles, speelgoed, kombuisgoed en ander ongebruikte items weg gee.

Een van die groot temas in baie boeke oor spiritualiteit is “eenvoud”. Ons “clutter” ons lewens so vol met baie dinge dat ons nie meer geniet en waardeer wat ons het nie. Ons besittings besit ons, in plaas van dat ons ons besittings besit.

Die eenvoud is nie net belangrik vir ons besittings nie maar ook in ons harte. Wanneer ons net tyd maak om te besef wat werklik die belangrikste is, verloor al die ander faktore wat ons lewens wil opeis sommer hulle houvas oor ons.

Die doel van die groei in eenvoud is die bevryding van die hart. Het jy al ervaar wat dit is om werklik vry te wees van die bande van die samelewing, verwagtings van mense, houvas van sonde en onrealistiese verwagtings?

Ek nooi jou om jou voor te berei vir Paastyd deur te begin huis en hart skoonmaak. Die resultaat is ‘n hart wat vry is.

Mag die kruis en opstandinng van Jesus Christus jou bevry!

Groete in Christus

Immanuel van Tonder

Views: 96

Tags: Predikante

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van Lynnwood Gemeente om kommentaar te lewer!

© 2021   Created by NGL Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service