In 'n interessante artikel in die Finweek van 29 Julie word die vraag gevra "wat maak 'n uitstekende leier"? Natuurlik het mens verskillende leierskapstyle in verskillende situasies nodig. Jy kan nie met een leierskapstyl alles uitrig nie. Maar volgens prof Robert Sutton van Stanford universiteit is daar egter twee eienskappe wat mens in alle style nodig het: Selfvertroue en Twyfel! Selfvertroue gee rigting en twyfel maak jou oop om te luister.
Dit klink aan die aan kant vreemd want dit klink of die twee idees met mekaar bots. Maar meer as een navorser het al by dieselfde antwoord uitgekom. Jim Collins in "Good to Great" bewys uitvoerig hoe die belangrikste eienskappe van 'n goeie leier "'n sterk wil en nederigheid" is. 'n Ontwikkelingsielkundige (Meacham) noem die twee eienskappe 'n "geestestoestand van wysheid". Jy kan jou standpunt uitspreek maar is oop om nog te leer!
Ek dink hierdie twee konsepte is krities noodsaaklik in alle mense se lewens nie net vir sg. leiers nie! Om bv. 'n goeie ouer te wees moet jy met selfvertroue kan optree maar oop genoeg kan wees om te luister. As jou selfvertroue jou blind maak is dit 'n verkeerde selfvertroue. As jy weer so "nederig" is dat jy nie wil leiding gee of inisiatief toon nie, beteken jy ook niks vir die mense om jou nie.
Ek dink nie dis onverantwoordelik as mens na Jesus se karakter kyk en die twee eienskappe daarin sien nie. In Kobus Neethling se boek "Voel soos Jesus" wys hy juis op die feit dat Jesus "moed" en "nederigheid" getoon het.
Die vraag is egter nou vir jou... Hoe lyk jou selfvertoue meter ? En jou nederigheid? Verstop jou arrogansie jou kanaal na wysheid? Of dalk is jy so "nederig" dat jou potensiaal nie ontluik nie?
Blom met oorgawe en nederigheid vir die Tuinier!
Beste Wense
Immanuel van Tonder
0835406015
Jy moet 'n lid wees van NG Lynnwood Gemeente om kommentaar te lewer!
Join NG Lynnwood Gemeente