NG Lynnwood Gemeente

Liewe Vriende,

Wanneer mens dink oor jou verhouding met die Here, jou gesprek met God en God se gesprek met jou, is ek baie dankbaar dat die Here ons toelaat om ons verhouding met Hom op 'n verskeidenheid van maniere in te rig. Lees ek die Bybel reg, is daar nie vaste voorskrifte vir die manier waarop ek moet bid nie.
Ek wil nie nou 'n lang stuk skryf oor gemeenskap met God nie, maar net 'n paar gedagtes met julle deel oor die betekenis van tyd en stilte in my verhouding met God.
Dink maar aan Moses wat 40 dae alleen saam met God op die berg moes deurbring, sodat die Here hom kon toerus vir sy taak (Ex 32:1). Elia moes 40 dae alleen saam met God deurbring op die berg Horeb, waar die Here hom laat rus en nuwe opdragte gegee het, na die ervaring op die berg Karmel (1 Kon 19). Die Here Jesus sê in Mat 6:6 dat jy na jou kamer toe moet gaan as jy bid, ter wille van stil onverstoorde gemeenskap. Hyself het Hom baie keer onttrek om stilte te kry vir sy omgang met sy Vader.

Psalm 1 en Josua 1:8 sê, onder andere, dat van die belangrikste kenmerke van gelowiges is, is dat hulle die Woord van die Here "dag en nag oordink." Die Psalmdigter sê in Ps 63:7: "as ek aan U dink op my bed, oor U peins (nadink) in die nag ..." In Psalm 104 kyk die digter na die natuur, sien God se handewerk daarin en bid uiteindelik in vers 34: "mag hierdie bepeinsinge van my vir Hom aanneemlik wees!"
So sou mens kon aanhou en al meer onder die indruk kom dat om stil te wees by die Here, na te dink oor jou verhouding met die Here, 'n wesenlike deel van jou verhouding met Hom is.

Meditasie is 'n ander woord daarvoor. Daarom vind ek dit vreemd dat dié praktyk in sommige kringe en van verhoë af verdag gemaak word. Dit is 'n verrykende belewenis om stil te raak by die Here, te midde van die dolle gejaag en geskarrel van mense. Probeer dit gerus en geniet dit.

Seënwense en mooi loop,

Pieter en Daleen

Views: 1

Tags: Predikante

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van NG Lynnwood Gemeente om kommentaar te lewer!

Join NG Lynnwood Gemeente

© 2012   Created by NGL Admin.

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service