Liewe Vriende,
Hierdie naweek verwelkom ons ds. Fay van Eeden en haar man Peet, in ons gemeente. Sy is ons nuwe dominee vir die Nuwe Generasiebediening en word bevestig by die aanddiens. Sy preek ook die oggend in die kerk.
Hulle afskeid by Nooitgedachtgemeente (Bronkhorstspruit) verlede Sondag, die proses wat ons deurloop het om haar te beroep, na Zander se vertrek en die feit dat dominees kom en gaan in gemeentes, het my laat dink aan die rol wat dominees in gemeentes speel. Omgekeerd ook watter rol dominees in gemeentes se lewe speel.
Paulus skryf in Efesiërs 4 dat die Here aan ons elkeen genadegawes gee (4:5-7). Dié gawes word gegee om mekaar te dien en op te bou. Predikante en ander ampsdraers is ook weer gawes aan die gemeente, met 'n bepaalde taak: "om gelowiges toe te rus vir hulle dienswerk" (4:11-13).
Ek glo dat op ons lewensreis as gemeente, ook elke lidmaat se reis, elke dominee 'n vormende rol speel. Dink maar aan Lynnwood se storie, van Murray Janson af tot by Zander wat weg is, elke dominee het een of ander rol gespeel om by te dra tot die storie. Elke dominee se koms of vertrek het 'n nuwe fase in hulle eie lewe, maar ook in die gemeente se lewe ingelui. Dit is ook waar dat die gemeente en elke gemeentelid wat met die dominee in aanraking gekom het, ook 'n invloed gehad het op die dominee en sy gesin se lewensstorie. Ons besef dit net nie aldag nie!
In hierdie vyftigste jaar van ons gemeente se bestaan, word weer so 'n nuwe fase ingelui, met 'n nuwe vroulike dominee! 'n Unieke stuk geskiedenis.
Fay beloof Sondagaand dat sy haar kant gaan bring en haar roeping, getrou aan die Evangelie gaan nakom in die gemeente.
Dit plaas op ons as gemeente ook die verantwoordelikheid om getrou te bly aan óns roeping as gelowiges - in ons betrokkenheid in die gemeente, maar ook in ons ondersteuning en voorbidding vir Fay en Peet. Dieselfde is waar van ons, haar kollegas, ons is óók betrokke in die nuwe fase in hulle lewe.
Daleen en ek sien baie uit na die nuwe fase in die reis. Die Here het Fay uniek gemaak en unieke gawes gegee om ons mee te kom verryk. Hulle is twee spesiale mense.
Kom ons omarm hulle en mekaar op die volgende deel van die reis. Hulle het ons en ons het hulle nodig. En deel van ons omarming is dat ons vir mekaar gaan bly bid.
Geniet die reis!
Liefdegroete en seënwense.
Pieter en Daleen.
Welkom by
NG Lynnwood Gemeente
© 2012 Created by NGL Admin.
Jy moet 'n lid wees van NG Lynnwood Gemeente om kommentaar te lewer!
Join NG Lynnwood Gemeente