NG Lynnwood Gemeente

Liewe Vriende,

Mag julle Paasfees geseënd wees!

Tradisioneel is ons Paasnaweek se vieringe gefokus op Goeie Vrydag en Paassondag. Daar is in die kerklike tradisie 'n rykdom van maniere waarop die naweek se gebeure gevier word.

In Nederland word vandag, "Witte Donderdag" genoem Dit het begin in die 12e eeu deur 'n wit doek oor 'n kruis te gooi.  In die Duitse tradisie staan die dag bekend as "Gründonnerstag", afgelei van 'n Duitse woord wat "ween" (huil) beteken. Op die dag het gelowiges boete gedoen van hul sondes en vergifnis van die Here ontvang, met die oog op hulle viering van Paasfees.

Goeie Vrydag is in die oudste tradisies 'n a-liturgiese dag waartydens net na 'n kort boodskap geluister is. Die dag is deur die kerkvader, Ambrosius, 'n "dag van bitterheid" genoem. Die Duitsers noem dit "Karfreitag" - afgelei van die oud-Duitse woord "kara" - om te kla en te treur. Nagmaal is nooit op die dag gevier nie. In die ou tradisies is nagmaal op Paasdag gevier as die hoogtepunt van die naweek se vieringe. Die kleur van die dag was swart.

Saterdag is "Stille Saterdag" genoem. In die tradisie is gekonsentreer op die "grafrus" van die Here Jesus en Skrifgedeeltes rondom Sy begrafnis en versorging van Sy liggaam gelees. Die grafrus is beskou as bevryding van sy lyding. In die Bizantynse liturgie staan die dag bekend as die "heilige en groot sabbat". Daar is gekonsentreer op die sabbatsrus van God, waarin die skepping, verlossing en ook die herskepping, God se werk sal afrond.

Paassondag, die dag van die opstanding, is ons belangrikste Christelike fees. Dit hou verband met die Joodse Pasga-vieringe, die Israeliete se bevryding uit hul slawerny in Egipte (Ex 12). In Jesus Christus se opstanding kry hierdie bevryding van die sondebande wat ons bind, nuwe betekenis en is die hoogtepunt van die naweek se vieringe. Die kleur van die dag is wit. Nagmaal is gevier op die dag as 'n viering en herinnering aan die bevryding en LEWE wat ons ontvang het.

Ons vier elke Sondag dié nuwe lewe. Mag dié lewe, elke dag , onder alle omstandighede, in jou bruis en gestalte vind.

Liefdegroete en seënwense,

Pieter en Daleen.

 

Views: 18

Tags: Predikante

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van NG Lynnwood Gemeente om kommentaar te lewer!

Join NG Lynnwood Gemeente

© 2012   Created by NGL Admin.

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service