Liewe Vriende,
Voor ek by die gedagtes vir vandag kom, eers twee sake.
By ons personeelvergadering gister (die kantoorpersoneel, kosters, predikante en 'n lid van Diensverhoudinge), het ons kans gehad om as deel van die opening te "Wandel in die Woord." Ons kon nadink oor 1 Johannes 4:15-21, waar onder andere staan: "Wie bely dat Jesus die Seun van God is - God bly in hom en hy in God ... wie in die liefde bly, bly in God en God in hom ... Ons het niks te vrees vir die oordeelsdag nie ... Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees ..." Ons kon toe gedagtes oor die deel uitruil.
Die wonder dat God in ons bly en ons in Hom, hierdie wederkerigheid bly nog altyd 'n groot genade, was een reaksie. Ek het gewonder oor die liefde wat die vrees uitsluit. Die verband van die deel is duidelik: ons hoef nie bang te wees vir die oordeelsdag of vir straf nie. Maar is dit al "vrees" wat bedoel word?
Ek raak soms onseker en bang vir wat in ons land kan gebeur as al die Malemas en die "looters" (rowers) van die belastingbetaler se geld en ander kriminele, hulle sin kry en nie gekeer word nie. Natuurlik is daar ander goed ook wat mens bang maak. Iemand merk toe op dat 'n persoon op Facebook geskryf het, na aanleiding van Joh 3:16: "want so lief het God die wêreld ... sodat die wat in Hom glo ...", so lief het God die Malemas, die kriminele, die ateïste, die wat anders glo, ensovoorts! Ek wil byvoeg: ... en vir my!
Die gesprek het my laat dink: dis so waar! Ons vergeet die omvang en krag van die Here se liefde so maklik! Maar bid ek genoeg oor die saak, vir die mense wat my onseker maak, die owerhede, ens. ... of is dit net lekker om vinger te wys? Wat kan ons nog doen, behalwe om net te bid, om die "bangmakers" bloot te stel aan die Here se liefde?
Dit laat my verseker dink ... enige voorstelle?
Liefdegroete en seënwense,
Pieter en Daleen.
Naskrif: Indien jy weggaan met vakansie, geniet elke oomblik en rus goed. Dieselfde geld ook vir elke student en tiener wat op uitreike of sporttoere gaan. Ek weet nie van rus op so 'n toer nie, maar kom veilig terug!
Welkom by
NG Lynnwood Gemeente
© 2012 Created by NGL Admin.
Jy moet 'n lid wees van NG Lynnwood Gemeente om kommentaar te lewer!
Join NG Lynnwood Gemeente