Dagsê
Die eerste kwartaal van 2011 is so vinnig verby soos wat dit begin het... ‘n kwartaal wat ons uit die liewe Here se fonteine tot ons beskikking gedrink het om ons 24/7 christenwees oral uitgeleef te kon kry. Ek het twee gebede raakgeloop wat iets verwoord van my eerste kwartaal worsteling by hierdie fonteine...
Geneviéve Graves se gebed...
Here, U wat hierdie mense liefhet wat ek nie kan verdra nie,
U wat die harte verstaan van hulle wat ek nie kan begryp nie,
U wat die innerlike worsteling ken van hulle wat ek ignoreer,
U wat die goeie motief sien in mense se optrede wat ek as skynheilig beskou,
... open tog my oë en my hart !!!
U ken my beter as wat ek myself ken;
U het my liewer as wat ek myself liefhet;
Here, leer my liefhê met u liefde !!!
‘n Anonieme gebed...
Maak my kalm, Here. Laat my benoude hardklop tog bedaar, kalmeer my gemoed.
Vertraag die dolle pas van my lewe. My lewe... so ‘n klein ratjie in die magtige gang van tyd.
U sien die spanning wat ek vir niemand anders wil wys nie, die bekommernis... waaroor tog alles.
Maak dit stil in my sodat my siel die musiek van die natuur kan hoor
en die skoonheid daarvan vrede binne-in my kan bring...
sodat my bewende hande kan saamvou,
dat my gespanne spiere kan ontspan
Help my om weer diep en onbesorgd te kan slaap met die sekere wete en die kinderlike geloof dat U sal sorg.
Leer my die kuns om kort-kort tot rus te kom;
miskien om ‘n beddinkie blomme te kan bewonder
miskien om ‘n hond te streel
lekker te sit en lees
en om te lag en speel met die wat ek liefhet.
Laat my opkyk sodat die besef van u grootheid my kan oorweldig, my tot ‘n stadiger pas kan bring en my u vrede kan gee.
Amen !
Groetnis
Johann Voges
Jy moet 'n lid wees van NG Lynnwood Gemeente om kommentaar te lewer!
Join NG Lynnwood Gemeente