NG Lynnwood Gemeente

Liewe Vriende,

Ons beleef almal op een of ander manier dat ons teen 'n vinnige tempo leef. Die gevaar word al groter dat ons vergeet hoe om rustiger te word en tyd te maak om na te dink en te reflekteer oor ons lewe. Ons stop eerder om ons selfone te gebruik of ons e-posse na te gaan. Tyd gaan by ons verby, maar so ook die betekenis of sin van ons lewe.

Hoe sien ek die betekenis of sin in my lewe raak? Ons het verlede week gesien dat elke mens daaraan behoefte het. Die lewe van 'n vrou, Michelle - dit is ook waar van mans - is 'n sprekende voorbeeld van hoe mens betekenis kan miskyk in jou lewe. Tweemaal geskei, ma van  twee tieners, sente moet omgedraai word, het sy gevoel haar lewe is net 'n stryd. Sy het nie veel beter oor haar werk gevoel nie. Gespanne, moeg en bekommerd het sy fout by haar kollegas en die feit dat sy "'n slegte kaart gedeel" is oor haar persoonlike lewe, gesoek. Dit het haar al meer depressief gemaak. Sy het só fout op ander plekke gesoek en só gekla dat sy onbewus oor haar eie rol en verantwoordelikheid in haar eie omstandighede geword het. Sy het vroeg "opgegee' oor die lewe en opgehou soek na betekenis.

Ons sal betekenis nie vind as ons dit nie soek nie. Dit kom in enige vorm, soms klein, ander kere groot. Soms sien ons dit nie dadelik raak nie, ander kere dadelik. Punt is, sê Frankl, ons moet sensitief daarvoor raak en dit probeer raaksien. Ons sal verras word. Dalk sal dit help as ons onsself afvra: wat doen ek? Waarom doen ek dit? Wat beteken my lewe vir my en vir ander rondom my? Elke dag is ryk aan betekenisvolle antwoorde. Elke oomblik, elke dag en alles wat ons doen, is "swanger" aan betekenis.

Hierdie sensitiwiteit en "bewus-wees" van betekenis/sin, maak ons ontvanklik vir 'n groot verskeidenheid betekenisvolle oomblikke in ons lewens. Wat ons dóén, hét en géé betekenis. Regtig!

Pattakos stel voor ons doen twee oefeninge om die sensitiwiteit daarvoor aan te wakker. Kyk weer na twee weke gelede se oefening oor die kaart van jou lewe en vra jouself af watter betekenis verskillende gebeure en mense in jou lewe gehad het. Die ander oefening is dalk moeiliker: gaan sit en skryf 'n paragraaf oor hoe jy sal wil hê mense jou moet onthou as jy die dag nie meer daar is nie.

Ek wil byvoeg: gaan sit en dink oor die feit dat die Here vir jou gesterf het en jou gawes gegee het. Waarom sou Hy vir jou wou sterf? Watter gawes het Hy jou gegee? Dink aan die mense in jou lewe: watter betekenis voeg hulle aan jou lewe toe?

Ons bid jou 'n wonderlike en geseënde paastyd toe.

Liefdegroete,

Pieter en Daleen

Views: 5

Tags: Predikante

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van NG Lynnwood Gemeente om kommentaar te lewer!

Join NG Lynnwood Gemeente

© 2012   Created by NGL Admin.

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service