NG Lynnwood Gemeente

Liewe Vriende,

Voor ek by die gedagte vir die week kom, wil ek julle uitnooi om 2 gesprekke oor: "Hoe ek myself sien, het 'n invloed op ander en myself," te kom bywoon. Petro Barnard en ek bied dit aan op 10 en 17 Maart om 18:00 in lokaal A21, as deel van Caritas-bediening se reeks onderwerpe die jaar. Hou asseblief die aankondigings dop en laat weet die kantoor as jy van plan is om dit by te woon.

Daar is verskeie redes waarom sommige mense moeilike situasies en verandering makliker hanteer as ander. Een rede is dat hulle die vryheid om hulle houding / ingesteldheid in alle omstandighede (goed of sleg) te kies, uitoefen.

'n Voorbeeld hiervan is die vrou wat elke dag, tenspyte van die weersomstandighede, blymoedig haar pos aflewer. Toe Alex Pattakos haar op 'n dag bedank, was sy verbaas. Op sy vraag hoe sy so opgewek bly met die posaflewering, was haar antwoord dat sy nie net pos aflewer nie, sy is besig om mense in verbinding met mekaar te bring, sy help die gemeenskap bou en funksioneer, mense maak staat op haar en sy sal hulle nie in die steek laat nie!

Pattakos maak dan 'n paar opmerkings wat mens laat dink. Maak nie saak wat ons mening mag wees oor die "status" of belangrikheid van 'n beroep of loopbaan nie, dit is die persoon wat daardie werk doen wat die werk betekenis gee. Die gevolg daarvan is dat dit vir jou ook meer betekenis begin kry. Ons probleem is dat ons soms in vaste en geykte patrone dink oor die lewe, ons gedagte-patrone word soos uitgetrapte voetpaadjies in die veld ... ons loop elke keer weer in die paadjie. Dan begin ons dink: dis soos die lewe is! Ons het geen beheer nie, "die lewe het jou 'n kaart gedeel", die lewe gebeur maar met ons. So het ons "tronke" vir ons gedagtes gebou en is ons dikwels gevangenes van ons eie gedagtes.

Pres. Mandela het by sy vrylating destyds 'n oomblik van woede ervaar wat op sy gesig gewys het. Toe Pres. Clinton hom later daaroor vra was sy reaksie: Ja dis waar. Terwyl ek in die tronk was, het die seun van 'n bewaarder met 'n Bybelstudie begin en ek het dit bygewoon.Toe ek daar uitstap en die mense sien, het ek vir 'n oomblik gedink: ek is beroof van 27 jaar van my lewe, maar toe sê die Here vir my: Nelson, toe jy in die tronk was, was jy vry, noudat jy vry is, moenie hulle gevangene word nie.

Daar is 'n sleutel om uit die tronk te stap, ons kan ons gedagte-patrone verander en een van die sleutelbeginsels is: ons het die vryheid om ons ingesteldheid te kies.  Ons oefen om dit reg te kry, dit gebeur nie vanself nie. Een manier is om te dink aan so 'n situasie en dan vir jouself 'n lys te maak van tien positiewe gevolge wat die negatiewe situasie waarin jy jou bevind, mag hê. 

Vriendelike groete en sterkte met jou keusevryheid.

Pieter en Daleen


Views: 4

Tags: Predikante

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van NG Lynnwood Gemeente om kommentaar te lewer!

Join NG Lynnwood Gemeente

© 2012   Created by NGL Admin.

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service