Dagsê


Met paasfees word die hartklop van Christenwees gedefinieer. Dis ’n naweek waarin ’n antwoord gegee is op een van die belangrikste vrae van menswees, en dit is – wat maak jou lewe ’n moeite werd lewe om te wil lewe.


Adam in die Genesisbladsye het gedink dat die werdgeit van menswees te doen het met die dag as ek self kan besluit om te maak wat ek wil soos wat ek wil. Ongelukkig het dit hom sy paradyslewe gekos.


Abraham het gedink dit het iets te doen met ek hoef nooit te worry nie, want die Here sal vir alles sorg tot hy ontdek het dat sy probleem is hy’t nie die geduld om te wag op die Here se tyd en manier van doen nie.


Jakob het gedink dat ‘n mens se werdgeit te doen het met hoe strategies jy die geleenthede in die lewe tot jou eie voordeel kan benut, tot hy die nag daar by Pniël in die Here vasgeloop het om vir die res van sy lewe mank te wees.


Jabes het gedink dat ‘n mens se werdgeit te doen het met wat jou naam beteken. Om te ontdek die Here sorg al bly jou naam dieselfde en al is jy nie die grootste boer in Palestina of gevrywaar teen rampe nie.


Job se vriende het gedog dat dit te doen het met hoe logies jy als kan verklaar en verstaan wat besig is om met jou te gebeur tot Job vir hul moes bid omdat die Here hul wou uithaal oor die snert wat hul kwytgeraak het van nie weet wat aan die gang is nie


Petrus het gedog ’n mens se werdgeit het te doen met hoe jy alles probeer doen wat jy dink Jesus wou hê jy moet tot die haan daai nag gekraai het om te sê – Petrus jy’t drooggemaak, want jy’t net gehoor wat jy wou. Wat jou op daai oomblik gepas het.


Paasnaweek wil kom sê – jou werdgeit as mens het niks te doen met hoe kinderlik naïef jy hieroor dink of hoe goed jy dit verstaan of hoe verward dit is om almal se opinie hieroor te probeer akkommodeer nie. Dit het alleen en uitsluitlik te doen met wat die Here God daai naweek laat gebeur het.


Wat maak die lewe wat jy leef, die moeite werd om te leef. Dit wat die Here Jesus daai eerste paasnaweek gedoen het, dit maak dit die moeite werd. Hoekom, want op daai naweek het my hier en nou en my toekoms begin sin maak, want ek weet my Verlosser leef en ek – ek leef saam met Hom !


Geseënde paasfees !


Johann Voges

Views: 60

Tags: Predikante

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van Lynnwood Gemeente om kommentaar te lewer!

© 2021   Created by NGL Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service