NG Lynnwood Gemeente

Kontak 24 November 2011 'n Skatkis vir Kerstyd!

Kerstyd is ‘n skatkis vol diep rykdom wat ontgin kan word.  Die wonderlike boodskap van Jesus se koms na hierdie wêreld, sluit vir ons die deksel van die skatkis oop.  Binne-in word ons verras met geskenke van vrede, vergifnis, vryheid, hoop, nuwe lewe en innige verhoudings.

Ons begin Sondag met die eerste Advent wat oor vier weke die verwagting van die koms van Jesus laat opbou tot ‘n cresendo! Ek nooi jou om nie hierdie ryke tyd net by jou te laat verbygaan sonder om die gawes wat dit jou bied te ontvang nie.

Elkeen vier kerstyd op hulle eie manier met hulle eie tradisies, maar ek dink as ons doelbewus beplan kan dit ons help om oop te wees om wat God aan ons wil gee te ontvang.  Die gedagte van Advent is om met verwagting oop te wees om Jesus al meer in ons wese te laat tuiskom.

Hier is ‘n paar wenke om voor te berei vir Kerstyd:

1 Maak tyd om goed te rus.  Beplan geleenthede om weer innerlik verfris te word soos wat jy jouself ken: in die natuur, musiek, by jou geliefdes, poësie, koskuns, filmkuns of stilte.

2 Besluit om in Kerstyd te gee!  Gaan deur jou huis en kies ‘n paar dinge wat jy kan weggee.  Laat jou kinders ook deur hulle kaste gaan en iets kies om weg te gee.

3 Bou aan die verwagting en atmosfeer van Kerstyd deur ‘n kersfees toneel uitstalling, kerse, liggies en versierings op te sit.

4 Hoe lyk jou musiekskat vir Kerstyd?  Net Boney M?  Gaan loop bietjie deur die musiekwinkel en verryk jou musiekskat.

5  Wil jy nie oorweeg om vanaf die eerste Advent tot Kerstyd daagliks iets oor Jesus se lewe te lees nie?  Stel vir jou ‘n leesrooster op en deel dit sommer met jou gesin.

6 Neem ‘n paar mense saam en gaan geniet Jakaranda Kinderhuis se liggieprojek van 1 – 30 Desember saans van 19:00-21:00. Inligting op ons webblad by “gebeure”.

7 Doen moeite met mense wat God aan jou toevertrou het:  kuier, vier, lag en huil saam.

8 Probeer om die tradisies van Kerstyd met nuwe betekenis te vul en leer jou kinders om dieper betekenis daarin te sien.  Die liggies as teken van die Lig, die boom as Boom van die Lewe en geskenke as teken van God se hart wat gee!

9 As julle beplan om oukersaand saam te sing, reël betyds vir woorde in ‘n boekie of gebruik sommer Powerpoint op jou skootrekenaar.  Daar sal voor 9 Desember ‘n Powerpoint met ‘n paar bekende kersliedere op die predikante-blog beskikbaar wees as jy dit wil aflaai en gebruik.

1o Woon die eredienste, Kersdiens (7:30 / 9:00) en kerssangaande in die gemeenskap by om jou op die pad verder te begelei.

Mag jy telkens verstom staan as jy nog ‘n skat uit die skatkis van Kersfees ontdek en jou eie maak.

Beste Wense vir ‘n diep verrykende Kerstyd.

Immanuel van Tonder

Views: 50

Tags: Predikante

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van NG Lynnwood Gemeente om kommentaar te lewer!

Join NG Lynnwood Gemeente

© 2012   Created by NGL Admin.

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service