NG Lynnwood Gemeente

Dagsê

In die afgelope tyd was die koerantblaaie vol van wetenskaplikes wat hul mond uit te spoel gehad het oor al die dom dominees wat Darwin se evolusie teorie nie kan verstaan nie en op die ander uiterste sommige dominees wat wetenskaplikes warmplek toe wil stuur omdat hulle nie letterlik die Bybel se skeppings­verhale (geloofstories) wil verstaan nie. Natuurlik is altwee hierdie uiterstes ewe dom. Dis op die ou end net iemand wat groot genoeg is om sy eie fout te kan raaksien, wat ook groot genoeg kan wees om sy foute reg te maak en wat ook empatie met ander se foute kan hê. Die grootste uitdaging natuurlik in enige gesprek oor die skepping... is nie om ander te oortuig oor wat jy weet of nie weet nie, maar juis dat die wat ʼn geloofsverklaring daaroor het ook fyn sal moet luister na diegene wat wil verklaar hoe hulle dink alles geskep kon gewees het en andersom ook. Vir beide maniere van kyk na die skepping en verstaan van mekaar se sieninge, geld natuurlik die waarskuwing van... die mense kan dink jy weet niks nie, maar moet asseblief jou mond oopmaak en dit nog bevestig ook nie.


Daar word vertel dat Isaac Newton1642 – 1727 een van Engeland se groot name op die gebied van wiskunde, wetenskap en filosofie op ʼn dag ʼn vakman gekry het om vir hom ʼn miniatuur sonnestelsel aanmekaar te sit volgens Newton se verstaan daarvan. In die middel van die toestel was ʼn groot goue bal wat die son voorgestel het, met ʼn klomp kleiner balletjies daar rondom in ʼn wentelbaan, wat die verskillende planete voorgestel het. Die afstand tussen al die balletjies was presies op skaal uitgewerk soos wat al die verkillende planete in die heelal in verhouding tot mekaar is. Met allerhande tandratte en stawe en kabels kon die miniatuur stelsel in perfekte presisie rondom die goue bal in die middel draai.


Terwyl Newton op ʼn dag met behulp van hierdie toestel allerhande berekenings gesit en doen het, kom een van sy vriende daar ingestap wat nie soos hy in die bestaan van God geglo het nie. Baie opgewonde vra hy toe vir Newton uit oor hierdie wonderlike toestel oor die heelal en wie dit uitgedink en gemaak het. Niemand nie, antwoord Newton met ʼn glimlag. Niemand nie, maar dis tog onmoontlik... was die ander ou se reaksie hierop, iemand moes dit tog uitgedink en gemaak het. Wel, jy hoef my nie te glo nie, maar kom ek verduidelik vir jou wat hier gebeur het. Al hierdie ratjies en dryfkabels het toevallig op ʼn dag hier bymekaar gekom en wonder bo wonder saam met die verkillende balletjies, wat ook van nêrens af kom op, presies op die regte plek en afstand bymekaar ingeval en om daai groot goue bal in middel begin draai. Dit was nie vir Newton daarna nodig om iets verder oor sy wetenskaplike prototipe te verduidelik of oor sy geloofstandpunt oor die skepping nie.


Groetnis

Johann Voges

Views: 0

Tags: Predikante

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van NG Lynnwood Gemeente om kommentaar te lewer!

Join NG Lynnwood Gemeente

© 2012   Created by NGL Admin.

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service