Liewe Vriende,
21 Mei 2011 het gekom en gegaan ... Die reuse aardbewing het nie gekom nie en sesuur was ons nog almal hier. Nou hoor ek daar is 'n Oktober-datum, daar is selfs 'n fliek gemaak oor Desember 2012 (iemand uit Duitsland het een van ons senior lidmate selfs gebel met die vertroulike inligting oor die presiese tyd, maar ook gesê dat sy kan verseker haar familie word ook gered as sy 'n sekere bedrag geld in sy rekening oorbetaal!) en onlangs het die Rekord 'n berig in gehad oor iemand wat sê die einde van die wêreld breek binne 7 jaar aan. Die tekens van die tyd wys dit, sê hulle.
Ek verstom my oor mense se liggelowigheid. Die Bybel sê tog duidelik dat niemand weet die dag en tyd nie (Mat 24:36). En ons leef sedert die uitstorting van die Heilige Gees op Pinksterdag in "die laaste dae." Die tekens van die tyd was nog altyd daar. Nuus versprei net nou vinniger ... dis sommer dadelik op ons televisieskerms, ons weet onmiddellik wat in die wêreld gebeur.
Dalk het Jesus Christus dit juis oor ons liggelowigheid in Mat 24 en 25 gehad, toe hy gepraat het oor die einde en al die tekens. Maar toe het hy in Mat 24:8 gesê: Al hierdie dinge is geboortepyne, die begin van die nuwe tyd. Paulus gebruik dieselfde beeld in Romeine 8:22 en 23 as hy praat van die "pyne van verwagting." 'n Geboortepyn (sê vroue) is erg, maar die vooruitsig na die nuwe lewe wat kom, laat mens vasbyt. Dit lyk my Jesus wil sê dat ons na die tekens van die tye, na swaarkry, ens. sal kyk en sal onthou: dis geboortepyne, nuwe lewe is aan die kom!
Wanneer, is nie belangrik nie. Wat wel belangrik is, is dat ek gereed sal wees wanneer Hy kom, dat my verhouding met die Here so sal wees dat Hy enige tyd ... môre, oor tien, oor honderd jaar, wanneer ook al, kan kom.
Ek verkies om in dié dae te dink aan hierdie besondere tyd in ons kerkjaar. Die tyd tussen Opstanding, Hemelvaart en Pinkster. Gebeure wat gemaak het dat jy en ek meer as oorwinnaars is; dat ons die Heilige Gees ontvang het wat dit moontlik maak om deur al die "tekens van die tyd", hoe erg ook al, te kan leef tot eer van ons Koning.
Liefdegroete en seënwense,
Pieter en Daleen
Welkom by
NG Lynnwood Gemeente
© 2012 Created by NGL Admin.
Jy moet 'n lid wees van NG Lynnwood Gemeente om kommentaar te lewer!
Join NG Lynnwood Gemeente