NG Lynnwood Gemeente

Kontak 26 Januarie 2012 - T-eenwoordig...selfs op die onwaarskynlike plekke

Dink vir oomblik na - waar beleef jy God se teenwoordigheid die meeste?

Ek vang myself baie male dat ek plekke indeel – plekke waar ek dink God teenwoordig is en plekke waar Hy nie teenwoordig is nie. Ek span onsigbare grensdrade – hier is die Here teenwoordig (by die kerk, in die bosveld, by die see) – maar hier is die Here nie teenwoordig nie (by die werk, op die pad, in die stad).

Die verhaal van Filippus en die Etiopiër (Handelinge 8:26-40) het my ‘grens-draad-manier-van-dink’ kom uitdaag. Die gedeelte begin waar die Here Filippus stuur na die pad tussen Jerusalem en Gasa. Vers 26 sê dit was ’n ‘stil pad’ – eintlik het daar niks op daardie pad aangegaan nie. Dit lyk asof die pad waarna toe die Here vir Filippus stuur nie meer in gebruik was nie. Kan jy dink wat deur Filippus se gedagtes moes gegaan het – “Here, die pad tussen Jerusalem en Gasa? Die pad wat so goed soos gesluit is. Dit maak nie sin nie Here, daar gaan dan niemand op daardie pad wees nie”.

Maar op hierdie stil, onwaarskynlike pad ontmoet Filippus ’n Etiopiër.

As ’n mens terugblaai na die begin van Handelinge 8 dan lees mens dat die kerk so begin groei het in Jerusalem dat die Joodse raad besluit het om iets aan die saak te doen – daarom laat hulle vir Stefanus stenig en begin die gelowiges vervolg. Dan lees mens hoe daar in die dorp Samaria baie mense tot bekering kom. Jerusalem en Samaria was die ‘hotspots’ waar die kerk gegroei het. En Lukas vertel dat die Etiopiër juis oppad terug van Jerusalem was. ‘n Mens sou dink dat hy daar die goeie nuus van Jesus sou gehoor het – maar die Here het ’n ander plan.

Die Here ontmoet hierdie man op ’n stil stofpad wat nie meer in gebruik was nie – nie by die herlewings-‘hotspots’ of by die tempel nie. Maar op hierdie onwaarskynlike plek.

As dit by die Here kom – werk daardie grense wat ons stel glad nie. Hy is oral teenwoordig. Hy ontmoet mense oral – soms op die mees onwaarskynlikste plekke. Niks kan die God wat ons dien inboks nie – Hy is oral teenwoordig – selfs op die onwaarskynlikste plekke en in die onwaarskynlikste situasies.

Watter grense moet jy skuif in jou denke oor God se teenwoordigheid? Kan jy by jou kantoor of in jou motor van God se teenwoordigheid bewus wees?

 

Ietsie vir jou T-tyd:
Raak tydens jou T-Tyd bewus van God se teenwoordigheid. Stel jouself in om bewus te raak van God se teenwoordigheid in mense en op daardie onwaarskynlike plekke waar jy Hom nie altyd raaksien of beleef nie. Begin bietjie fyner kyk – sien Hom in die onwaarskynlike raak. Neem met jou kamera of selfoon ‘n foto van ‘n ‘onwaarskynlike plek’ waar jy God se teenwoordigheid nuut beleef en gesien het. Druk die foto uit, skryf jou naam en iets oor die foto agter op en handig dit by die Info-toonbank of kerkkantoor in. Ons hou 18 Maart ‘n uitstalling van al hierdie fotos. Jy kan ook die foto op jou Blackberry of Facebook ‘profile’ sit.

 

Mag jy in hierdie week op ‘n baie spesiale manier bewus wees van God se teenwoordigheid, selfs op die onwaarskynlike plekke.

Groete


Fay

namens die predikantespan

Views: 14

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van NG Lynnwood Gemeente om kommentaar te lewer!

Join NG Lynnwood Gemeente

© 2012   Created by NGL Admin.

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service