Dagsê
Hierdie tyd van die jaar met die jakaranda’s in volle blom is dit nie net studente en skoolkinders wat se eksamenskryf-vermoëns getoets raak nie, maar elkeen van ons se eintlike motivering wat ek hierdie jaar mee begin het, raak ook getoets. Trouens oor hoe ek myself sien en hoe ek hierdie jaar probeer leef het wat ek geglo het, is op ʼn manier altyd aan die eksamenskryf. Einde van die jaar eksamen... kersfees amper om die draai... is die eintlike vraag om geantwoord te kry... hoe ek nederigheid hierdie jaar in my lewe verstaan gekry het.
Die grootste toets vir nederigheid, het CS Lewis op ʼn kol gesê, begin by die besef dat ek hoogmoedig is. Om dit in myself te kan raaksien én te erken ook, is nogal ʼn groterige stap. Niks kan verder aan jou nederigheid gedoen word voordat jy nie minstens eers hierdie stap geneem het nie. Want solank jy nog dink dat jy nie verwaand is nie, is dit presies wat jy rêrig is. Jy sien dis nie dat nederige mense minder van hulleself dink nie, hulle het net geleer om minder aan hulleself te dink !!! Phillips Brooks stel dit mooi... werklike nederigheid beteken nie dat jy moet buig om kleiner as jyself te lyk nie, maar dis om in jou volle lengte te staan langs iemand of iets wat werklik groter as jyself is. Dis die enigste manier om te meet hoe klein jou grootheid rêrig is.
John Ruskin, bekende Engelse digter en kunstenaar het op ʼn kol gesê dat... ek glo die grootste toets vir enige mens se grootheid... is sy / haar verstaan van nederigheid. Met nederigheid dan nie as ʼn wantroue in jou eie vermoëns en oortuigings nie, maar as ʼn duidelike insig in wat jy kan doen en kan weet in vergelyking met wat die res van die wêreld doen en weet. Alle ware groot geeste weet wat hulle kan en nie kan nie. Hulle weet ook meestal dat hulle reg is in hul oortuigings omdat hulle dit van alle kante af goed deurdink het. Maar hulle dink nie baie van hulleself nie, al weet hulle dat hul reg is... en juis dit maak hulle groot.
Nederigheid is eintlik niks anders as ʼn onsigbare deug nie. Die wat dit besit, is nie noodwendig bewus daarvan nie, en die wat dit in ander raaksien, is dikwels so skaam oor hulle eie gebrek daaraan dat hulle nie sommer daaroor wil praat nie, het Penelope Stoles eenkeer opgemerk. Rec Browne is van mening dat nederigheid nie eintlik iets is wat jy met jou eie wilskrag kan bereik of regkry nie. Ander mense kan jou ook nie nederig maak nie, hoogstens verneder. Daar is ook nie spesifieke goeters wat jy moet doen wat jy dan nederigheid kan noem nie. Nederigheid is eintlik ʼn kwalitiet wat alles kleur wat jy doen... ʼn manier van lewe. Eintlik ʼn gawe van God wat Hy bereid is om met mense te deel. Dis ʼn geskenk van Hom wat jou gelukkig sal maak, maar nie noodwendig gewild nie.
Groetnis
Johann Voges
Welkom by
NG Lynnwood Gemeente
© 2012 Created by NGL Admin.
Jy moet 'n lid wees van NG Lynnwood Gemeente om kommentaar te lewer!
Join NG Lynnwood Gemeente