Dagsê
Dis nogal opvallend om te sien hoe dikwels Jesus in die Nuwe Testament eintlik meeste van die tyd preke sonder woorde gedoen het. Trouens dis hoe sy storie met kersfees ook begin het. Lukas2 se kersfeestorie is een van die dae weer voorbladnuus... tenminste ons hedendaagse weergawe daarvan. Maar die dag toe dit gebeur het, was dit eintlik Jesus se eerste preek sonder woorde.
In ons tyd ruik kersfees anners as die eerste ene... vandag se kersfees reuk is een van lekker kos en alles wat mooi en vrolik en blink is. Die eerste kersfees het soos ’n stal geruik... waarskynlik is die plek waarin Jesus daai nag gebore is een van die grotte daar in die omgewing van Betlehem waar die bees- en skaapwagters hul diere laat oornag het. Toe die herders daai nag by Josef en Maria opdaag, kon sy haar oë nie glo nie. Sy’t geweet hulle was op daai oomblik nie waar ’n mens normaalweg skaapwagters verwag nie... dis ouens wat in die veld gebly het... die destydse skorriemorries... gelyk en geruik soos mense wat in die veld bly... ja, die skaapruik het ook in hul klere vasgesit. Maar hier’s hulle om na Jesus se eerste preek te kom luister... hoekom, want die engele het vir hulle gesê hulle moet kom. Dis asof daar daai nag by die eerste kersfees die verkeerde mense opgedaag het... hulle was nie kerkmense nie... ook nie mense wat in die destydse samelewing gereken is as mense wat jy kan vertrou nie... hulle was nie eers toegelaat om in ’n destydse hof te getuig nie.
Die preek sonder woorde daai nag in daai grot wat hierdie herders se lewe vir altyd verander... ’n babatjie wat in doeke toegedraai is en in ’n krip (’n voerbak) lê. Wat sien hulle... die Redder van die wêreld, waarvan die engele gepraat het... ruik nie na babapoeier en spesiale lekkerruik babaseep nie... Hy ruik soos een van ons. Wat hoor hulle... die Redder van die wêreld het gekom vir iemand soos ekke... met al my geite en goeters... en nie soos almal dink vir hulle wat altyd gelukkig lyk en nooit moeilikheid het of siek raak of op raak nie.
Wat doen Jesus se preek sonder woorde... toets my aanvoeling of ek in my tyd ook sensitief genoeg is vir die preke sonder woorde wat elke dag om my gebeur... daar by die werk... by my huis... tussen anner mense. Wat hoor ek as iemand vir my vriendlik ’n indrukbeurt in die verkeer gee... as iemand vir my ’n bord kos in liefde voorberei of sommer net ’n lekker koppie koffie op die tafel kom neersit sonder dat ek gevra het. Dit vra ook watter preek sonder woorde hoor anner mense in die voorbeeld wat ek elke dag stel. Albert Einstein het op ’n dag gesê... om ’n voorbeeld te stel, is nie die belangrikste manier om ander te beïnvloed nie, dis die enigste manier.
My wens vir jou hierdie kersfees... ’n gediggie van ene Jeanette le Roux wat in haar gemeente daar in George se versamel digbundel, bekend as... dit kom uit laaie, hierdie gediggie geskryf het oor “geloofsbelydenis”. Mag jy hierdie kersfees ook iets van hierdie Here se naby wees en vrede in jou lewe ervaar.
Geloofsbelydenis Jeanette le Roux
Ek glo in ’n God
wat kaalvoet oor die duine loop
my soos ’n kuiken in sy hande dra
en saans om die kombuistafel na my gebede luister
terwyl die ander wêreldnuus kyk
ek glo in ’n God
wat vir my op die stoep wag
om huistoe te kom
wat daagliks vir my broodjies inpak
en my troos as ek huil
ek glo in ’n God
wat spoeg op seerplekke sit
kerse in die donker kamers aansteek
en my hand vashou
as ons in ’n storm loop
ek glo in ‘n God
wat die kaart ken
vir die pad vorentoe
die antwoorde het
op al my hoekom vra
en tyd het
om saam met my te droom
Groetnis
Johann Voges
Voeg Kommentaar By
Kommentaar deur Fay van Eeden op 1 Desember 2011 om 11:36 Dankie Johann - dis so 'special'!
Welkom by
NG Lynnwood Gemeente
© 2012 Created by NGL Admin.
Jy moet 'n lid wees van NG Lynnwood Gemeente om kommentaar te lewer!
Join NG Lynnwood Gemeente