NG Lynnwood Gemeente

Kontak 5 Januarie 2011: Kwaste en Kleure vir jou Lewenskuns

2012 lê voor jou soos ʼn wit skilderdoek waarop jy jou lewenskuns gaan skilder...  Mense benader egter die jaar verskillend:

- Party begin met ’n  fyn potloodskets raamwerk met die hoop om ‘n vooraf gevisualiseerde prent te skilder. Hulle maak nuwejaarsvoornemens en skryf hulle doelwitte neer.

- Ander weer verf meer spontaan vreesloos sonder om vooraf planne te maak.  Elke nuwe situasie lei tot ʼn nuwe keuse van kleur en vorm. Hulle vertrou dat hulle sal reageer na gelang van die situasie.

- Daar is ook dié wat maar net weer dieselfde skildery van verlede jaar presies so herhaal sodat daar nie te veel veranderinge is nie. 

Elkeen van die metodes lei tot unieke lewenskuns.  Maar dalk kan ons almal by mekaar iets leer!  Al drie help jou om jou kwas op te tel, in die verf te kry en te begin skilder.

In die nuwe boek van Jim Collins, Great by Choice, noem hy 3 verrassende beginsels vir besighede in tye van groot verandering wat ons dalk ook kan help in ons lewenskuns:

* Discipline  (‘n verbintenis aan ‘n konsekwente  manier van optree)

* Creativity (om kreatief te innoveer tot jy ‘n resultaat bereik)

* Paranoia (om kapasiteit en bronne beskikbaar te hê vir ingeval dit nodig is)

Hulle navorsing het bevind dat dié drie beginsels saam moet funksioneer.  Dissipline sonder kreatiwiteit is dood, maar kreatiwiteit sonder dissipline lei ook tot niks.  Vir die prosesse is bronne nodig om dissipline toe te pas en kreatief te kan wees.

Hoe voel  jy oor die drie beginsels:  dissipline, kreatiwiteit en genoeg kapasiteit?   Die gevaar bestaan dat jy die jaar deurgaan en aan die einde van jaar sit met ‘n leë skilderdoek!  As jy egter met wat jy ontvang het, kreatief gedissiplineerd voort verf, neem jou lewenskuns vorm aan.

God gee aan elkeen van ons kapasiteit in kwaste en kleure vir ons lewenskuns!   Rom 12:4-8 nooi elkeen uit om met  jou unieke kwas te waag en jou kwas vol verf op die doek te plaas.  Die styl waarop ons ons kuns beoefen is met moed, toewyding en blymoedigheid.

Maak ‘n tydjie saam met die Kunstenaar van die Lewe om jou lewenskuns in die bewussyn van sy teenwoordigheid te bedink en te bedryf.

Mag jy aan die einde van die jaar terugstaan en die meesterstuk aanskou, wat dié Meester deur jou tot stand gebring het!

Beste Wense

Immanuel van Tonder

Views: 36

Tags: Predikante

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van NG Lynnwood Gemeente om kommentaar te lewer!

Join NG Lynnwood Gemeente

© 2012   Created by NGL Admin.

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service