Vriende,
Hoe kan ons, klein mense, die grootheid van God, selfs net íéts van sy liefde begryp? Want lees mens die paar verse oor mense in Genesis 4:1-8, 23-26 en 10:8-12, besef jy hoe moeilik dit is...
Kain maak sy broer Abel dood en as die Here hom aanspreek, is sy reaksie dat sy straf te groot is en dat hy bang is mense gaan hom doodmaak as hulle hom in die hande kry. Ek lees iets tussen die lyne van 'n onwilligheid om verantwoordelikheid vir sy dade te aanvaar, 'n regte slagoffer-gesindheid, 'n smeulende woede en vrees. Hy is doof vir die genade wat die Here hom aanbied en die Here sê toe as iemand hom doodmaak, sal dié sewe maal gestraf word.
Dit raak toe erger! Hy kry 'n seun, Lameg, wat 'n regte genadelose geweldenaar is. Hy sê vir sy vroue dat as iemand hom wond, of 'n seun hom selfs seermaak: "Kain sal sewe maal gewreek word, Lameg sewe en sewentig maal!"
Dan lees ons van Nimrod, die eerste "maghebber", 'n dapper jagter en vegter, wat vir homself 'n groot ryk gevestig het. Magsmisbruik was bekend en vrede alleen moontlik as hy in beheer was.
In hierdie verhaal van geweld, wraak en mag, is daar darem twee verse (Gen 4:25-26) wat 'n ligpuntjie is en vertel van hoop. Set word gebore in Abel se plek en hy kry 'n seun Enos ... en dan staan daar: "in daardie tyd het die mense begin om die naam van die Here aan te roep."
Terug by die vraag aan die begin. Hoe kan die kinders van Kain genade verstaan, Lameg se kinders verstaan wat barmhartigheid beteken en Nimrod se nageslag wat vrede is, as selfs Enos se nageslagte daarmee sukkel?
Dit lyk of die enigste manier was dat God tussen die kinders van Kain, Lameg, Nimrod en Enos moes kom woon. Hy móés maar met Sy genade, barmhartigheid en vrede kom intrek neem tussen ons! God se koms in Jesus is ons redding. Wat sál van die nageslagte van Kain, Lameg, Nimrod en Enos geword het, as dit nie vir Jesus se koms was nie.
Kersfees beteken dat God met sy genade, barmhartigheid en vrede in ons wil kom woon, in ons sigbaar word. Hy het nie net onder ons kom intrek nie, maar ook IN ons kom intrek. Hy wil in ons leef, sodat die die kinders van Kain, Lameg, Nimrod en Enos dit kan ervaar en ook verander word.
Dit kan alleen gebeur as God in ons "gebore"word, en nie maar net in die "omtrek" is nie. Dis hoe dit Kersfees in ons lewe moet word. Dan kan mens begin verstaan wat Jesus kom sê het van sewentig maal sewe keer vergewe (anders as Lameg), sout wees, lig wees ...
Mag die genade van ons Vader, die liefde van Christus en die nabyheid van die Heilige Gees, jou elke dag vol vreugde maak.
Liefdegroete en seënwense,
Pieter Oosthuizen
(namens die Predikantespan)
Welkom by
NG Lynnwood Gemeente
© 2012 Created by NGL Admin.
Jy moet 'n lid wees van NG Lynnwood Gemeente om kommentaar te lewer!
Join NG Lynnwood Gemeente