NG Lynnwood Gemeente

Liewe Vriende,

Eerskomende Sondag vier ons Pinksterfees. Dink mens aan die gebeure rondom die uitstorting van die Heilige Gees en die voorafgaande gebeure: ons Here Jesus se kruisiging, opstanding en hemelvaart, kan mens nie anders as met beskeidenheid daaroor te dink en te praat nie. Ons het met 'n misterie te doen; met God wat ánders en gróter as ons is. 'n God wat nie daar "anderkant" of "oorkant" is nie, maar hiér by ons, ín ons. Al kan ons Hom nie sien of voel nie. Soos: ons weet byvoorbeeld die verwarmer is warm, maar ons kan die hitte nie sien nie; ons kan dink, maar ons kan die gedagtes nie sien nie.

Hoe verduidelik 'n mens Pinkster aan mekaar en jou kinders? Heidi en Jörg Zink het in hulle boek: "Die Stem van die Son" gevra hoe 'n mens verduidelik dat God Gees is? Hulle skryf (onthou hulle bly ook in die Noordelike Halfrond waar dit nou lente is, soos in Israel):

"Pinkster is soos die lente. Dis warm en alles blom.

Solank dit winter is, slaap alles daarbuite. Maar as dit lente word, word alles wakker en groei en sing en blink omdat God oral lewe gee en krag voorsien.

As mens sê: die Gees van God maak of skep alles, beteken dit: God is met alle dinge besig en in alles teenwoordig.

Hy maak dat ons kan dink, dat ons kan teken en sing, dat ons lekker gedagtes kan dink, dat ons pret kan hê en dat ons mekaar kan liefhê.

As jy iets sê en ek kan jou hoor en verstaan wat jy wil sê, is dit die Heilige Gees wat dit moontlik maak.

As jy in 'n donker kamer ingaan en bang is, en jy kan met God praat en God maak jou dan weer gelukkig omdat jy nie meer bang is nie, is dit ook iets wat die Heilige Gees vir jou doen.

As ons stry - en dit gebeur baie - en dan nie aanmekaar verder baklei nie, maar vir mekaar sê: ek is jammer, moenie meer kwaad wees vir my nie, kom dit ook deur die Heilige Gees.

As ons 'n vreemde mens sien, 'n swartman of 'n bruinman of 'n witman of iemand met smal ogies - miskien iemand uit Japan - en nie vir hom bang is nie; as hy eerder vir ons 'n mooi mens is en ons bly kan wees en weet dat ons almal God se mense is, kom dit ook van die Heilige Gees.

As ons nie heeltemal gedoen het wat ons moes doen nie; en as ons miskien selfs slegte dinge gedoen het en dit moet wegsteek, en ons sê vir God dat ons jammer is, ons word weer gelukkig en glo dat Hy ons liefhet ten spyte van alles, kom dit ook deur die Heilige Gees.

As iemand doodgaan en ons is hartseer en kan tog nog glo dat hy leef en by God is, en ons is bly dat ons ook na ons dood sal lewe, is dit ook die werk van die Heilige Gees.

Die Heilige Gees maak dat ons kan glo, mekaar kan liefhê en kan uitsien na môre en elke ander dag."

Ons bid dat Pinkster vir jou beteken dat God se lente in jou lewe gekom het om te bly en dat jy Sy teenwoordigheid elke dag in jou lewe sal beleef.

Liefdegroete.

Pieter en Daleen

Views: 8

Tags: Predikante

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van NG Lynnwood Gemeente om kommentaar te lewer!

Join NG Lynnwood Gemeente

© 2012   Created by NGL Admin.

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service