NG Lynnwood Gemeente

Dagsê

Die ou mense het altyd gesê... daar is net drie ‘te’s wat nie na sonde ruik nie... te voet, te perd en tevrede. Die gefoeter is net dat die tevrede raak storie nie altyd oral ewe maklik gebeur nie. Soos ’n bekende ou wêreldse Franse skrywer ene Francois la Rochefoucauld1613 – 1680 in sy tyd al gesê het... dis moeilik om tevrede te wees as jy min het, maar dis onmoontlik as jy baie het.

 

Soos die storie wat vertel word van die meulenaar en sy seun wat besig was om hul donkie aan te jaag om op die mark te loop verkoop vir ’n ekstra geldjie om die meul mee aan die gang te hou. Oppad loop hul ’n klomp meisies raak wat hul uitlag omdat hulle agter die donkie aanloop terwyl hul daarop kon ry. Om nie dalk potensiёle klante te verloor nie, laat die meulenaar toe sy seun op die donkie klim terwyl hy langsaan verder saamstap. Hulle loop toe by ’n klomp mans verby wat hewig onsteld vir mekaar sê... dis nou ’n  tipiese voorbeeld van hoe vandag se jeug ook g’n respek meer vir ouderdom het nie. Hoekom laat jy nie eerder jou pa op die donkie ry nie... jy’s mos nog jonk en sterk genoeg om die lopery te kan doen. Verleё klim die pa toe maar op die donkie en ry verder tot waar ’n klomp vroue hom roskam oor die feit dat hy vir die arme kind wegry wat so sukkel om by te hou. Die pa laat die kind toe maar saam met hom op die donkie ry. Toe hulle die dorp binnery is daar ’n klomp omgekrapte diere liefhebbers wat ’n bohaai opskop omdat hulle die arme donkie so oorlaai. So met die afklim het die verwarde donkie besluit dis nou genoeg... homself losgeruk en weggehardloop. Die meulenaar en sy seun moes toe maar net daar in hulle spore omdraai huistoe... sonder donkie... sonder enige geld... omdat hulle probeer het om al die mense wat hul daai dag teёgekom het tevrede te probeer stel.

 

Bertholt Auerbach1812 – 1882 ’n bekende Duits-Joodse digter en skrywer het gesê... iemand wat nie tevrede kan wees met wat hy het nie, sal ook nie tevrede wees met dit wat hy nog altyd wou gehad het nie.

 

Groetnis

Johann Voges


Views: 5

Tags: Predikante

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van NG Lynnwood Gemeente om kommentaar te lewer!

Join NG Lynnwood Gemeente

© 2012   Created by NGL Admin.

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service