1 + 1 + 1 = EEN Dié wiskunde lyk verkeerd vir almal wat kan somme maak, maar in hierdie vreemde formule is een van God se wonderlike misteries opgesluit! God se wiskunde werk anders:
1 Die Vader en Seun is een.
2 Jy en ek is een!
3 Die Heilige Gees verenig Vader, Seun en Ons!
Lees dié aangrypende woorde van Jesus stadig nadenkend: (Eintlik moet jy jou skoene uittrek want wat jy lees bevestig dat waar jy is, heilige grond is. God is in diepe eenheid teenwoordig.)
“Ek bid dat hulle almal een mag wees,
net soos U, Vader, in My is
en Ek in U,
dat hulle ook in Ons mag wees,
sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het.
Die heerlikheid wat U My gegee het,
het Ek ook aan hulle gegee,
sodat hulle een kan wees
net soos Ons een is:
Ek in hulle
en U in My,
sodat hulle volkome een kan wees,
sodat die wêreld kan weet
dat U My gestuur het
en U hulle liefhet net soos U My liefhet.”
(John 17:21-23)
Het jy al die asemrowende diepte van hierdie waarheid bedink? God se diep rykdomme word deur die woorde Vader, Seun en Gees ontsluit soos ʼn skatkis wat oopgemaak word. Elkeen van die name wat vir God gebruik word openbaar die wonder van God se identiteit as liefde, skeppend, betrokke, naby, vernuwend, deernisvol, fontein van vrede, bevrydend, insluitend, teenwoordig, dinamiese krag en soveel meer!
Die teks maak dan ʼn skokkende opmerking: God soos hierbo geopenbaar is ook EEN MET ONS! Die eenheid in die Godheid word uitgebrei na God se eenheid met ons. Wat 'n stelling is dit nie!
Ek is so bang ons raak gewoond aan hierdie woorde omdat mens dit in die kerk baie hoor. Geliefdes, hierdie is die toppunt van intimiteit; dat God in jou is en jy in God en ons met mekaar een is!
Ons gemeente se kwartaal tema EENHEID, is ʼn diep diep waarheid wat nie in een sessie begryp kan word nie. Heel moontlik sal ons dit nooit begryp nie, maar ons kan toelaat dat ons deur God-in-ons en ons-in-God aangegryp word. Hierdie voortdurende verwondering is die reis van die lewe waar jy telkens verras sal word hoe naby God werklik aan jou is.
Ek hoop jy hoor ook die hartklop van God vir eenheid onderling tussen ons. Kan jy dink hoe ons God se hart seer maak met ons gedagtes, woorde en dade wat ons die eenheid verbreek met ons selfsug. Jesus laat ons oor die grense van ouderdom, geslag, opinies, kultuur en ras één wees sodat dit ʼn teken is dat GOD werk.
Laat jou eenheid met God jou verbind aan die mense om jou!
T-TYD
Maak ʼn tydjie waar jy hierdie teks hier bo rustig kan lees. Stop na elke frase en bedink dit oor-en-oor.
Dink oor jou dag: Waar sal ʼn bewussyn van God se inwoning in jou ‘n verskil maak? (huis, werk, vergadering, bestuur, sport, eet, alleen tye?)
Waar is dit nodig dat die eenheid met die mense om jou herstel word?
Gee mee aan die waarheid en werklikheid van God wat een is met jou soos God een is! Sit net agteroor en geniet woordloos die eenheid met God se omarming.
Welkom by
NG Lynnwood Gemeente
© 2012 Created by NGL Admin.
Jy moet 'n lid wees van NG Lynnwood Gemeente om kommentaar te lewer!
Join NG Lynnwood Gemeente