Dagsê
Die oudste vertaling wat ons van die Onse Vader het, is in koine (gewone) Grieks wat die wêreldtaal in Jesus se tyd was. Van hierdie vertaling is jare later ’n Aramese vertaling gemaak as ’n poging om te probeer verstaan hoe die plaaslike mense in Jesus se tyd wat almal Aramees gepraat het, Jesus ook, die gebed sou verstaan. Een van die strofes Matteus 6:12 in die Onse Vader uit Grieks vertaal, klink op Afrikaans so... vergeef ons ons oortredinge, soos ons ook dié vergeef wat teenoor ons oortree Nuwe Afrikaanse Vertaling of anders vertaal... vergeef ons waar ons nie doen wat U van ons vra nie, net soos ons ander mense vergeef wat nie reg teenoor ons optree nie Die Boodskap. Die Aramese vertaling hiervan klink op Afrikaans iets van die volgende... Here, gee my die genade om myself en die mense om my te waardeer en respekteer vir die bydrae / verskil wat elkeen probeer maak in plaas van om myself / hulle te verwyt / af te kraak vir die foute wat in die proses gemaak is.
Dis hierdie sinnetjie wat my laat dink het aan hierdie gebed wat iemand geskryf het oor... ’n gebed vir my oudag.
Here, U weet beter as ek dat ek oud word en dat ek eendag oud sal wees. Help dat ek nie praatsiek word nie, en behoed my veral van die noodlottige gewoonte om iets te sê te moet hê oor elke onderwerp en by elke geleentheid. Verlos my van die behoefte om alle ander mense se sake te moet reёl. Hou my gees vry van die relaas van nimmereindigende besonderhede. Gee my die vleuels om die kern van die saak te kan stel. Ek vra genade om na die verhale van ander mense se kwinte en kwale te luister, maar sluit asseblief my lippe as ek oor my eie kwellinge wil uitwei. Hou my redelik goedgeaard, Here, want ’n iesegrimmige oumens is een van die duiwel se pronkstukke. Bewaar my van skynheiligheid en heilig my lewe. Maak my bedagsam, maar nie buierig nie; hulpvaardig maar nie baasspelerig nie. As ek dink aan die skat van wysheid waaroor ek beskik, lyk dit vir my jammer dat ek dit nie alles kan gebruik nie, Here. Leer my die groot les dat dit tog af en toe moontlik is dat ek my kon vergis het. Want U weet, o Here, dat ek aan die einde van my lewe tog ’n paar vriende wil oorhê.
Dan sluit elke Aramese gebed met die woord...ameyn... op Afrikaans... Here, dis my werklikheid, help my daarmee !!! Dis seker hoekom hierdie gebed nie net een vir die oudag kan wees nie, of wat prat ek alles...
Groetnis
Johann Voges
Welkom by
NG Lynnwood Gemeente
© 2012 Created by NGL Admin.
Jy moet 'n lid wees van NG Lynnwood Gemeente om kommentaar te lewer!
Join NG Lynnwood Gemeente