Lynnwood Gemeente

Lynnwood Gemeente

Kontak met die werklikheid

 

Tydens ‘n kompetisie waar deelnemers geblinddoek moes onderskei tussen verskillende soorte kos, is daar aan ‘n ouer dame ‘n stukkie lietsjie gegee.  Sy kon glad nie onderskei wat dit was nie, maar sy het vreeslik baie daarvan gehou.  Toe hulle die blinddoek afhaal was sy verstom om te hoor dat sy die lietsjie so geniet het.  Haar hele lewe lank was sy onder die indruk dat lietsjies sleg was, met die gevolg dat sy dit nooit geëet het nie.  Meer as 60 jaar van haar lewe het sy met hierdie skewe illusie geleef, totdat sy die realiteit vars en nuut moes ervaar.

 

Mens kan nie anders leef as om sekere oortuigings met tyd op te bou nie.  Ons bou met die jare ‘n virtuele wêreld op waarmee ons die werklikheid ervaar.  Mense het byvoorbeeld ‘n idee oor wat werk is, en elke dag vorm daardie idee oor werk hoe ek my werk benader.   Die idee strook egter nie altyd met die werklikheid nie.  Soms is ‘n dag heeltemal anders as my idee, tog bly my oortuigings my ervarings kleur. 

 

Die verblinding deur illusie gebeur veral met ons persepsies van ander mense.  Ons konstrueer ‘n idee oor iemand en soek dan eintlik net bevestiging dat my persepsies reg is.  Jou gedagtebril waarmee jy kyk kleur jou hele ervaring van die persoon dat jy eintlik nie werklik die varsheid van elke ontmoeting kan ervaar nie.  Om die interaksie waardevol te maak, is dit nie die ander persoon wat moet verander nie, maar jy wat met die werklikheid moet kontak maak sonder jou filters.

 

Van die mees vernietigendste illusies is oor idees oor wat mens gelukkig maak.

  • Party mense leef met die illusie dat ander mense jou gelukkig moet maak, dat jou lewensgeluk van ander afhang.   Jy plaas daarmee jou hele lewe op die spel.  Dink mooi daaroor na hoe ons ons aan hierdie valsheid uitverkoop.  As my huweliksmaat my nie gelukkig maak nie, is ek ongelukkig.  Geluk lê nie daar nie maar hier by jou!
  • Daar is ook die illusie dat geluk kom as ek net begeertes vervul.  Maar die oortuiging is soos om ‘n perd net suikerklontjies te voer.  Dis dalk lekker vir ‘n oomblik, maar dit gee nie blywende voeding nie.  Sommige mense leef hulle hele lewe lank net op soek na vervullings, maar die res van die lewe word gemors!
  • Ander word weer verblind met die illusie dat gebeure en omstandighede jou geluk bepaal.  As dinge nie volgens jou voorkeur verloop nie, is jy ongelukkig.  Hoe dom is dit nie?  Ons het die potensiaal om in ‘n ongemaklike situasie vry te wees en steeds geluk te vind.
  • Party mense leef met die illusie dat jy gelukkig sal wees as ander mense ‘n sekere idee van jou huldig wat jy van hou.  Byvoorbeeld dat jy suksesvol, ryk, goed gebou, bekend, slim  of gewild is.   Die oortuiging vorm jou lewe, optrede en lewensgeluk.  Jy verval in angs as iemand iets slegs van jou dink of van jou verskil. 

 

Dit is so jammer dat miljoene mense hulle lewens weggooi met vernietigende illusies.  Hierdie en soveel ander illusies veroorsaak spanning, angs, hartseer, ontevredenheid en diep ongelukkigheid.

 

Hoe word ons bevry van die illusies?  “Word Wakker!” en maak kontak met die werklikheid!  Ja, laat die Lig van Teenwoordigheid daarop val dat jy werklik kan sien wat in jou en om jou gebeur. Jy sal ook bewus raak hoe jou vooropgestelde idees jou ervaring kleur. As jy oplettend met aandag lewe begin die realiteit blom. 

 

Die bevrydende Lig van die Evangelie maak jou so vry!  Jy kan volkome geluk vind deur die Weg wat Jesus ons wys tsv omstandighede, mense en mislukkings.  Ons vind diepe rus en tevredenheid in die arms van die Vader wat ons ewig omhels. Daar is ‘n onuitputlike Bron van Lewe wat in ons opborrel en stroom na ander!  Word wakker in die wonderlike werklikheid. 

T-TYD

 

Heeltyd speeltyd” is gesegde wat ons as studente baie gebruik het. Ek wil jou uitnooi tot “Heeltyd T-Tyd”. Dit beteken dat die geloofsoefening nie apart van die lewe plaasvind nie, maar in die lewe. Probeer jou gedagtes “betrap” as hulle jou die werklikheid deur jou illusies laat beleef.  Ervaar dan die wonderlike bevryding as jy jou illusie laat vaar en die rykdom van die moment rou kan beleef. 

 

Views: 131

Tags: Predikante

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van Lynnwood Gemeente om kommentaar te lewer!

© 2020   Created by NGL Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service