Lynnwood Gemeente

Lynnwood Gemeente

Kontak van 1 April 2016 - (On)beduidend . . .

Ek het 'n rukkie terug hierdie foto op Facebook raakgeloop. Die titel van hierdie installasie, deur die Meksikaanse kunstenaar Jorge Mendez Blake, is 'Die krag van een boek'. Met die eerste oogopslag lyk die installasie na 'n doodgewone baksteenmuur, maar wanneer jy hierdie konstruksie van nader bekyk word die bultjie in die middel van die muur sigbaar. Dit is fassinerend dat 'n enkele Spaanse uitgawe van El Castillo deur Franz Kafka die hele konstruksie van die muur kan beïnvloed. In 'n onderhoud met La Capital verduidelik Blake waarom hy juis hierdie spesifieke boek gebruik: “[T]he character of history is against a system anonymously and tiny and does not know [he] is fighting an entire structure. The book does the same work.”

Dieselfde is waar van die paasgebeure. Die kruisdood van 'n Joodse Rabbi sou vir meeste mense op daardie Vrydag 'n onbeduidende gebeurtenis gewees het. Maar hierdie (on)beduidende gebeurtenis kom verander die geskiedenis van die mensdom vir altyd.

Die paasgebeure herinner ons nie net aan die nuwe lewe wat ons deur die kruis en opstanding ontvang nie, maar nooi ons ook om in Jesus se spore te volg. Ons word genooi om met ons spesifieke gawes en vermoëns 'n verskil te maak daar waar ons leef, werk en speel.

Soveel male dink ons dat wie ons is, en dít wat ons kan doen, onbeduidend is. Ons besef nie altyd watter effek die klein goed wat ons kies om te doen, óf nie te doen nie, op die realiteit rondom ons het nie. Blake se installasie wil ons herinner dat selfs die kleinste, onduidendste goed 'n groot impak kan maak. Dit herinner my aan Desmond Tutu se woorde: “Do your little bit of good where you are; it's those little bits of good put together that overwhelm the world.”

Hoe sal ons gemeenskap lyk as elkeen in Lynnwoodgemeente hierdie kwartaal toelaat dat God se Koninkryk deur ons lewens kom?

Liefde
Fay
(namens die predikantespan)

Views: 171

Tags: Predikante

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van Lynnwood Gemeente om kommentaar te lewer!

© 2020   Created by NGL Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service