Lynnwood Gemeente

Lynnwood Gemeente


Die leer oor die Drie-eenheid is iets wat teoloë al vir jare besig hou. Die vraag na hoe die Drie-eenheid in verhouding met mekaar staan bly vir my een van die interessantste en moeilikste vrae. Johan Cilliers poog om deel te neem aan hierdie eeue oue gesprek met ‘n skildery wat die verhouding tussen die persone van Drie-eenheid op ‘n unieke wyse uitbeeld.


In sy kunswerk Dancing with Deity gebruik hy afdrukke van sy eie hande om drie dansende figure te verf. Die drie figure wat na aan mekaar is word deur die ritme en vreugde van die saamdans verbind. Die drie koppe vorm ‘n driehoek wat hulle eenheid beklemtoon. Hulle liggame en voete wat aan mekaar verbind is bevestig weer hulle eenheid, maar wil ook iets van ‘n harmonieuse diversiteit uitbeeld. Alhoewel ons tussen die drie figure kan onderskei, is hulle steeds Een. Die geel sirkel versterk ook die idee van eenheid, sowel as hulle saamdans in ‘n sirkel.

Die kleure van die figure is ook doelbewus gekies. Die middelste rooi figuur verteenwoordig die gekruisigde Christus. In hierdie uitbeelding is Christus vry van die kruis en dans Hy saam met die ander twee persone van die Drie-eenheid. Die figuur aan die linkerkant word in pers, die kleur van koninklikheid en mag, uitgebeeld en verteenwoordig God die Vader. Die Heilige Gees (regs) word in geel uitgebeeld wat ‘n mens aan lewe en tonge van vuur herinner. Die skildery beeld iets van die uitbundigheid van die lewe, vreugde en harmonie uit en dit alles speel teen die donkerblou agtergrond van die kosmos af.

Die sirkel waarin in die Drie-eenheid dans is ook nie ‘n geslote sirkel nie. In hierdie dans is God Drie-enig se arms wyd oop – Hy nooi die hele skepping om te deel in die vreugde van hierdie saam-dans. Thomas Merton beskryf dit mooi: ‘To hear His call and follow Him in His mysterious, cosmic dance...when we see the migrating birds...when we see children in a moment when they are really children...For the world and time are the dance of the Lord in emptiness. The silence of the spheres is the music of a wedding feast...Yet the fact remains that we are invited to forget ourselves on purpose, cast our awful solemnity to the winds and join in the general dance.’

Mag ons die vreugde ervaar om saam met ons Drie-enige God deur die lewe te dans.

Groete
Fay
(Namens die predikantespan)

Bron:  Dancing with Deity deur Johan Cilliers 

Views: 102

Tags: Predikante

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van Lynnwood Gemeente om kommentaar te lewer!

© 2020   Created by NGL Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service