Lynnwood Gemeente

Lynnwood Gemeente

As gelowiges is ons konstant besig om te soek na waarheid, waarhede, of die Waarheid. Oral waar ons gaan word ons omring deur allerhande waarhede, maar ons probeer soek na waarhede oor die Waarheid. Alhoewel hierdie soeke na waarheid ongelooflik belangrik is, en al is ons intensies hoe suiwer, kan hierdie soeke na waarheid maklik ongesond of afbrekend word.


ʼn Skoolvriend van my het altyd gesê: daar is my waarheid, jou waarheid, en die regte waarheid. Ek dink dat die meeste van ons glo dat daar ʼn waarheid is waarby ons op een of ander manier moet uitkom, maar dalk is ons nie heeltemal bewus oor hoe baie hierdie “waarheid” of “waarhede” eintlik maar “my waarheid” is, eerder as ʼn waarheid wat vir ander mense kan geld nie. Dit lyk soms of dit deel van ons “natuur” is, as gelowiges, om maklik te glo dat ons greep op die realiteit gelyk is aan dié Waarheid. Al is ons hoe ernstig opsoek na die waarheid, moet ons baie oplettend wees oor hoe ons dink oor waarheid.


Ek vang myself baiekeer uit dat wanneer ek hoor wat ek wil hoor, of hoor waarvan ek hou, ek heeltemal vergeet om in ag te neem hoe daar by hierdie spesifieke antwoord of punt uitgekom is. As my waarhede versterk of ondersteun word, ignoreer ek maklik die oorsprong of logika van die denke betrokke. Dit is eers wanneer een of ander appelkar in my lewe omgegooi word dat ek stilstaan en twee keer dink oor hoe ek by hierdie antwoorde uitgekom het, en nog belangriker, wat die gevolge van my “waarhede” vir ander mense inhou.


Richard Rohr skryf in The Naked Now dat ons gewoonlik verskeie kriteria het waarmee ons bepaal wat reg en verkeerd, selfs waar en vals is. Ons vra dalk met ons woorde, ”wat die waarheid is”, maar aan ons binnekant is die vrae in baie gevalle eerder: Kom dit van my groep of kerk af? Gebruik dit my woordeskat en definisies? Maak dit my gelukkig of gemaklik? Maak dit my ongelukkig of ongemaklik?


Soveel van die verhale en tekste in die Bybel gaan juis hieroor: om dit te soek wat nader aan die waarheid is. Dit is egter opvallend dat min bybelkarakters se uiteindelike ervaring van wat waar, of die waarheid is, gelyk is aan hulle verwagtinge daarvan. Die mees opvallende voorbeelde is die dissipels. Diegene wat die naaste aan Jesus geleef het, en wat die meeste van hom te siene gekry het – dat hulle in baie gevalle amper geen idee het waarmee Jesus besig is, of wat hy probeer sê nie. Hulle het ʼn magdom verwagtinge gehad van hierdie Messias, die Waarheid, en so min van hierdie verwagtinge blyk akkuraat, of sinvol te gewees het.


Dalk kan dit vir ons waardevol wees om na te dink oor waarheid, en dalk meer belangrik, hoe ons dit definieer, en wat ons daarvan verwag. Is ons bereid om te luister na stemme wat nie deel van ons groep vorm nie, stemme wat ons uitdaag, en stemme wat ons ongemaklik maak? Is ons bereid om te aanvaar dat ons idee van die waarheid nooit die Waarheid sal kan vasvat nie, maar dat ons altyd nog steeds moet aanhou soek daarna? Is ons bereid om te aanvaar dat ons ons verwagtinge en vooroordele op die pad van geloof, waarop ons ons hele lewe lank aspekte van die Waarheid in allerhande waarhede raakloop, ter syde kan stel?


Groete
Jakkie

Views: 96

Tags: Predikante

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van Lynnwood Gemeente om kommentaar te lewer!

© 2020   Created by NGL Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service