Lynnwood Gemeente

Lynnwood Gemeente

Kontak van 16 Oktober 2015 - Om hoop te hê…

‘Moet my tog nie dwing om van u af weg te gaan en om te draai nie, want waar u gaan, sal ek gaan; waar u bly, sal ek bly; u volk is my volk; u God is my God.’ (Rut 1:16)

Een van die sentrale temas in die boek Rut is hoop. Vir die skrywer van die Rutverhaal is hoop nie ‘n abstrakte toekomsbegrip nie. In die Rutverhaal lê hoop in verhoudings. Naomi, wat aan die begin van die verhaal as ‘n hopelose weduwee geskets word, gaan uiteindelik ‘n toekoms vol hoop tegemoet weens haar verhouding met haar skoondogter Rut. Dit is haar verhouding met Rut wat dit vir haar moontlik maak om ten spyte van onsekerheid aan te hou. Dit is hierdie verhouding wat haar deur ‘n verskeidenheid van veranderings dra en staande hou.

Ek het iets hiervan by verlede week se Algemene Sinode beleef. Sinodegangers, het by wyse van spreke, by die tafel bly sit al was die disse wat bedien is nie na almal se smaak nie. En hulle het aan die tafel gebly omdat daar verhoudings is. Ten spyte van verskillende standpunte het die sinodegangers mekaar vasgehou en met mekaar in gesprek gebly, omdat daar verhoudings is. Ek vermoed dat die skrywer van die Rutverhaal sou sê dat daar vir die NG Kerk hoop is, omdat daar verhoudings is.

Liefde
Fay van Eeden
(namens die Predikantespan)

Vir jou T-tyd hierdie week

Watter verhouding/s het in die laaste jaar vir jou hoop gebring? Is daar iemand wat ten spyte van moeilike tye saam aan jou lewenstafel bly sit het. Neem vandag ‘n tydjie om God vir daardie persoon te dank. Oorweeg dit om gedurende die naweek vir daardie persoon ‘n boodskap te stuur.

Views: 117

Tags: Predikante

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van Lynnwood Gemeente om kommentaar te lewer!

© 2020   Created by NGL Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service