Lynnwood Gemeente

Lynnwood Gemeente

Kontak van 18 November 2016 - Steek die adventkerse aan

Ons vier met die kerssangdiens van 27 November die begin van Adventstyd. Advent begin op die vierde Sondag voor Kersfees en eindig op Oukersaand. Met Adventstyd vier ons God se ingrype in die geskiedenis van die mensdom deur die geboorte van Christus as mens. Die woord 'advent' is afgelei van 'n Latynse woord wat 'koms' beteken en verwys na die koms van Christus, sy eerste sowel as sy tweede koms.

Een van die gewildste simbole in adventstyd is die adventskrans. Die ronde krans word gewoonlik van groen blare gemaak wat die lewe, wat ons in Christus het, simboliseer. In die meeste tradisies word daar vyf kerse in die krans geplaas, vier in die sirkel en een in die middel. Drie van die kerse in die sirkel is blou terwyl die vierde ligroos is. Die vier kerse, wat hoop, verkondiging, vreugde en reinheid verteenwoordig, word op die Adventsondae een na die ander aangesteek sodat al vier kerse teen die vierde Adventsondag brand. Die middelste wit kers, die Christuskers, word op Kersdag aangesteek.


Daar bestaan verskeie teorieë rondom die ontstaan van hierdie simbool. Volgens professor Haemig se navorsing het die moderne adventkrans sy ontstaan te danke aan Johann Hinrich Wichern (1808-1881) ‘n Protestanse predikant in Duitsland en baanbreker in stedelike sendingwerking onder die armste van die armes. Daar word vertel dat die kinders by een van Wichern se sendingskole, Rauhes Haus, in Hamburg tydens Advent elke dag sou vra of dit al kersfees was. In 1839 het Wichern ‘n groot hout ring van ‘n ou wawiel gebou waarin hy twintig klein rooi en vier groot wit kerse geplaas het. Elke weeksdag en Saterdag is ‘n rooi kers aangesteek. Op Sondae is ‘n wit kers aangesteek. Volgens Haemig het hierdie gebruik met die jare onder Protestanse kerke in Duitsland gewild geraak en is dit in 1920 deur die Rooms Katolieke kerk as tradisie aangeneem. Mettertyd is die krans tot ‘n kleiner weergawe met slegs vyf kerse vereenvoudig.


Alhoewel adventkranse tradisioneel van steekpalm (holly), dennebolle en ander Europese plantmateriaal gemaak word, sou ons net so maklik adventkranse wat eg Suid-Afrikaans is kon maak. Miskien wil julle as gesin hierdie advent julle eie adventkrans maak – iets wat eie is aan Suid-Afrika, julle buurt of julle gesin. Ons eie Adventkrans bestaan uit takke uit ons tuin en Papierbaspeule uit ons buurman Peet se tuin. Vir díe wat advent langs die see gaan vier is ‘n adventkrans uit opdrifsels ‘n besondere moontlikheid. Gee aan julle kreatiwiteit vlerke en vier saam met die kerk deur die eeue die wonder van advent met julle eie adventkrans. Steek saam met die gemeente op 27 November julle eerste adventkers aan.

Geseënde Advent!
Liefde
Fay
(namens die Predikantespan)

Views: 268

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van Lynnwood Gemeente om kommentaar te lewer!

© 2020   Created by NGL Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service