Lynnwood Gemeente

Lynnwood Gemeente

Kontak van 20 November 2015 - Ons bid vir reën…

Suid-Afrika het dringend reën nodig. Groot dele van ons land is vasgevang in ‘n knellende droogte wat mens, dier en gewasse raak. Vanuit verskillende oorde word daar gevra dat ons almal saambid vir reën. Die Noordelike sinode het gevra dat alle gemeentes in ons sinodale grense laas Sondag vir hierdie saak voorbidding doen. Die laaste tyd vra ek myself af: ‘Wat beteken dit om vir iets of iemand voorbidding te doen? Wat beteken dit om vir reën te bid?’

Brian D McLaren verduidelik voorbidding as die oomblik waar ons onsself aanbied as die brug tussen die behoeftes van ander en die liefde en vertroosting van God. Volgens hom verklaar ons deur ons voorbidding twee groot waarhede. Eerstens, dat God deernis het met almal wat swaarkry en in nood is, en tweedens, dat ons ook deernis het. Wanneer ons namens iemand na God uitroep, bou ons ‘n brug tussen ons deernis, en die deernis van God. En op daardie oomblik, sê McLaren, bely ons die volgende: ‘Someone is suffering, and at least two hearts in the universe notice and refuse to turn away – God’s heart and my own.’ Deur voorbidding kies ons verbintenis bo skeiding, asook deernis en betrokkenheid bo apatie. Voorbidding vra ons om op swaarkry en pyn te reageer met meer as woorde en verduidelikings, maar met deernis en aksie. Dit is om te sê: ‘For a fellow creature to be in pain and without help in God’s universe is simply unacceptable to both God and me. So I will go in between the two. I will grasp the hand of God with one hand and grasp the hand of my neighbour in pain with the other. I will join God in willing comfort, blessing, peace, and grace for my sister or brother in need.’

C.S. Lewis gee ‘n interessante perspektief op gebed: ‘I pray because I can’t help myself. I pray because I’m helpless. I pray because the need flows out of me all the time - waking and sleeping. It doesn’t change God - it changes me.’

Ek vermoed dat McLaren en Lewis my vraag so sou antwoord: Bid en vertrou God vir reën. En, laat daardie gebed jou ook verander. Laat daardie gebed die wyse waarop jy water sien en gebruik verander. Laat toe dat jou gebed jou gedurig herinner dat skoon lopende water ‘n seëning is wat skaars is. ‘n Seëning wat ons nie in ons land as vanselfsprekend kan aanvaar nie. Laat toe dat jou gebed jou ook aankla oor die wyse waarop jy water gebruik. En laat jou voorbidding jou uitdaag om besparende gewoontes aan te leer en van jou daaglikse roetine deel te maak.

Mag jy in jou voorbidding vir reën opnuut bewus word hoe kosbaar water is.

Liefde
Fay van Eeden
(namens die predikantespan)

Vir jou T-tyd hierdie week

Kies een of twee van die onderstaande gewoontes en maak dit deel van jou voorbidding vir reën:


• Moenie potte onnodig volmaak wanneer jy kosmaak nie.
• Maak seker jou skottelgoedmasjien is vol voordat jy dit aanskakel.
• Maak jou wasbak net halfvol wanneer jy skottelgoed was.
• Neem ‘n 2minute stort, in stede van ‘n bad.
• Plaas ‘n emmer in jou stort terwyl jy stort. Gebruik die water wat jy op hierdie wyse opvang in jou toilet se tenk of maak plante daarmee nat.
• Installeer lae-vloei stortkoppe.
• Draai die kraan toe terwyl jy tandeborsel of skeer.
• Installeer aëreerders en vloei-verminderende kleppe op jou krane.
• Herstel druppende krane.
• Verminder die hoeveelheid kere wat jy jou swembad volmaak.
• Indien jy jou tuin moet natmaak – doen dit slegs voor 6:00 of na 18:00.
• Was slegs jou motor met ‘n emmer en ‘n spons.
• Gebruik slegs karwasse wat hulle water hersirkuleer.

Views: 144

Tags: Predikante

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van Lynnwood Gemeente om kommentaar te lewer!

© 2020   Created by NGL Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service