Lynnwood Gemeente

Lynnwood Gemeente

Kontak van 20 Oktober 2017 - Sam, Frodo, Pippin en trauma

Alles wat S.T Gibson oor trauma by haar ma geleer het, was aan die hand van die verhaal ‘Lord of the Rings’. Volgens haar beleef en oorleef ons almal, nes die karakters in Tolkien se verhaal, lewensveranderende gebeure (in die karakters se geval ‘n lewensgevaarlike tog na Mount Doom). Dit is gebeure wat ons op paaie neem waarvan ons nooit sou gedroom het nie, en waarvoor ons nog minder sou gekies het. Gebeure wat gewoonlik met trauma van een of ander aard gepaard gaan. Trauma wat ’n effek op ons het.

Sommige mense is soos Sam. Hulle gaan na ’n lewensveranderende gebeurtenis reguit huis toe waar hulle rustig saam met hulle vrou en hobbit kindertjies tuinmaak en vergeet van die ingrypende gebeure van hulle verlede.

Maar, sê Gibson, die meeste van ons is soos Frodo. Die tuiskoms is moeilik, omdat dít wat rondom en met ons gebeur het, ons verander het. Die wonde genees moeilik en ons dra swaar aan die herinneringe van ons seer of teleurstelling. Die wêreld en almal om ons gaan aan, en ons voel dat ons agterbly. En dan seil baie van ons soos Frodo weg na die Undying West, net om agter te kom dat die vrede waarna ons opsoek is slegs van binne af kom.

Sou ons die uitnodiging aanvaar om die reis na binne te neem, sou ons met ons emosies sit, onsself toelaat om elke emosie te voel en ook elkeen in God se teenwoordigheid in te bring, kan ons soos Pippin en Merry word. Hulle het nooit dit wat met hulle gebeur het, geïgnoreer nie, maar eerder hulleself oopgemaak vir die verandering wat saam met die gebeure gekom het. Hulle het tuisgekom in hulle veranderde self. En met die verloop van tyd het hulle leiers en wonderlike storie-vertellers geword. Hulle vrees, woede en hartseer het uiteindelik verhale geword waaruit ander kon leer en moed skep. In Tolkien se verhaal gebruik Pippin en Merry dít wat hulle op hulle lewensveranderende reis geleer het om hulle tuisland te beskerm.

Ek dink Gibson se ma was dalk reg toe sy gesê het: ‘It is our trauma that turns us into guardians. It is suffering that strengthens our skin and softens our hearts, and if we learn to live with the ghosts of what has been done to us, we just may be able to save others from the same fate.’ (S.T. Gibson)

Groete Fay

Views: 69

Tags: Predikante

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van Lynnwood Gemeente om kommentaar te lewer!

© 2020   Created by NGL Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service