Lynnwood Gemeente

Lynnwood Gemeente

Kontak van 21 Oktober 2016 - ‘n Voorraadopname van die lewe

Een van die mooiste gedeeltes in die boek Prediker is Prediker 9:7-10:
"Eet dus jou brood met vreugde, drink jou wyn met ‘n bly gemoed; God het lankal reeds goedgekeur wat jy doen. Dra altyd wit klere, versorg jou hare met olie. Geniet die lewe met die vrou (persoon) wat jy liefhet, dié lewe wat tot niks kom nie, maar wat God jou in hierdie wêreld gegee het, die hele lewe wat tot niks kom nie. Dit is wat jou toekom in die lewe, wat jou toekom vir al jou geswoeg in hierdie wêreld. Doen met toewyding alles wat jou hand vind om te doen,want in die doderyk waarheen jy op pad is, is daar nie werk of insig of kennis of wysheid nie."

Dit is asof die skrywer vir ‘n paar oomblikke stilstaan en voorraad neem. Hy ontken nie hiermee die harde realiteit waarin hy homself bevind nie. Maar te midde van die uitdagings van die lewe, die lewe wat hy op verskeie plekke as sinneloos bestempel, moet hy erken dat daar mooi en goeie goed in sy lewe is. Dit wat hy opnoem is eenvoudige goed, miskien oënskynlik onbelangrike goed – brood, wyn, klere, die vermoë om jou liggaam te versorg, geliefdes en selfs arbeid.

In die voorafgaande gedeelte erken die skrywer dat ons as gelowiges aan seer, siekte, teleurstelling en selfs die fisiese dood uitgelewer is. Hy erken ook ruiterlik dat ons min beheer het oor dít wat baie male met ons gebeur. Waaroor ons egter wel beheer het, is wat ons met die doodgewone en wonderlike goed maak wat ons het. En wysheid, sê hy, is om in hierdie lewe vreugde te vind in en te put uit die doodgewone en alledaagse goed wat God vir ons gee om te geniet.

Ek vermoed dat baie van ons, soos die skrywer van Prediker, soms so ingesluk word deur al die onsekerhede en ongeregtighede rondom ons dat ons vergeet van dít wat ons wel het.

Oktobermaand is dankie-maand by Lynnwood. ’n Geleentheid om voorraad te neem van dit wat ek en jy het. Miskien wil jy oorweeg om gedurende die laaste week van Oktober ’n voorraadopname van jou lewe te doen. Met dankbaarheid na te dink oor wat jy het, wie jy in jou lewe het en miskien díe goed wat jy gekies het om in die laaste tyd te laat gaan. Mag jou voorraadopname jou vul met ’n diep stuk dankbaarheid teenoor die Gewer van die lewe.

Geniet die mooie maand van Oktober met dankbaarheid!

Groete
Fay
(namens die Predikantespan)

Oorweeg om jou voorraadopname in die vorm van ’n dankie-brief of lysie te skryf, en dit saam met jou spesiale dankoffer na 30 Oktober se eredienste te bring.

Views: 139

Tags: Predikante

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van Lynnwood Gemeente om kommentaar te lewer!

© 2020   Created by NGL Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service