Lynnwood Gemeente

Lynnwood Gemeente

Kontak van 29 Januarie 2016 - Slawegeloof en Kindgeloof

'n Sunami van geloofsopinies spoel deesdae oor ons. Sommige daarvan laat 'n mens nadink, veral as dit oor ons optrede gaan. Ander is bloot eensydig en beterweterig met die doel om seer te maak. Dit is asof ons in Suid-Afrika eers onlangs die verouderde Westerse rasionalisme ontdek het.

Wanneer die kritiek van nie-gelowiges oor my spoel, dink ek dikwels aan 'n episode in Jesus se lewe. Op 'n stadium vertel die dissipels vir Jesus dat die mense besig is om Hom te verlaat en dan vra Jesus hulle moedeloos of hulle Hom nie ook wil verlaat nie, waarop Petrus antwoord: Waarheen anders kan ons gaan? U het woorde van die ewige lewe (Jh 7:68). Voel ons nie maar baie keer so as ons na die kritiek luister nie?

In Suid-Afrika was daar in die negentiende eeu ook 'n tydperk van geloofskonflik. In 'n artikel vertel die Stellenbosse teoloog, V Brümmer, hoedat een van die eerste twee teoloë van Stellenbosch, Nicolaas Hofmeyr, daarmee geworstel het. Hofmeyr het aan 'n liberale (destyds genoem: Modernistiese) universiteit in Nederland gepromoveer waar teologie alleen maar aan rasionele denke oorgelewer is. Toenemend het Hofmeyr die leegheid daarvan ervaar en dit later as panteïstiese rasionalisme beskryf.

Laat in sy lewe gee Hofmeyr 'n boekie uit oor Slawe en Kinders. Die grootste spyt in sy lewe, sê hy, is dat dit hom so lank geneem het om Paulus se onderskeid tussen slawe en kinders werklik te begryp, terwyl dit eintlik die kern van die evangelie is.

Daar is baie verskille tussen slawe en kinders, tussen 'n slawegeloof en 'n kindgeloof, sê hy.

Die relasie tussen 'n heer en sy kneg is 'n ooreenkoms van regte en pligte, nie ter wille van mekaar nie, maar ter wille van wat hulle uit die verhouding kan kry. Daarteenoor is die verhouding tussen kinders en ouers dié van 'n vrywillige en persoonlike identifikasie waarin hulle hoogste geluk hulle liefde vir mekaar is.

'n Slaaf hou toesig oor sy heer se besittings met die wete dat dit nie aan hom behoort nie, maar 'n kind weet hy is die erfgenaam daarvan en identifiseer hom daarmee.

Slawe is deur die letter van die kontrak gebind, maar kinders kan met vrymoedigheid namens hulle ouers optree. Ook in ons omgaan met die Skrif kan ons aanvoel wat ons hemelse Vader se wens is, sê Hofmeyr en hy voeg by: Dis die eienaardigheid van die Skrif dat dit aan ons geen stelsel oorlewer waarin die waarheid allengs versteen is nie.

Daar is 'n stukkie ironie hierin, want kort tevore is die slawe vrygestel. Daar was toe debat oor wat die Bybel daaroor sê. Sommige het gemeen dat dit onnodig is om hulle vry te stel, want daar is slawe in die Bybel – jy moet net nie jou naaste se slaaf begeer nie. Ander het gemeen dat dit hulle geloofsaanvoeling is dat God nie van slawerny hou nie.

Hoe verander mens van slawegeloof na kindgeloof, vra Hofmeyr? Deur 'n nuwe geboorte wat die Gees van God gee, sê hy.

Toe ek Hofmeyr klaar gelees het, het ek die gelykenis van die Verlore Seun nuut verstaan. Die jongste seun het hom voorgeneem om vir sy pa te sê dat hy sy slaaf sal wees, maar sy pa se liefde het hierdie woorde weggesoen (Lk 15:19, verg. 21). Die oudste seun het nie verstaan dat alles van sy pa syne is nie (Lk15:31); hy het 'n slawegeloof gehad.

Soms wonder ek of die kritici van die kerk nie aanvoel dat ons dikwels soos die oudste seun 'n slawegeloof en nie 'n kindgeloof het nie.

T-Tyd

Die onderskeid tussen slawegeloof en kindgeloof het baie fasette. Dink saam met my oor ander verskille en ook waar ons nog 'n slawegeloof het. (Lees gerus Paulus se die brief aan die Galasiërs, veral Hoofstuk 4.)

Groete
Johan Jooste
(namens die Predikantespan)

Views: 120

Tags: Predikante

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van Lynnwood Gemeente om kommentaar te lewer!

© 2020   Created by NGL Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service